Weg!

As jy moeg word vir die lewe in die stad

1 SHELTER ROCK

(8 KM), MAGALIESBERG

Die Magaliesberg is slegs 1 tot 1½ uur se ry uit Johannesburg of Pretoria en daarom is dié roete by Skeerpoort aan die voet van die berg ’n goeie plan vir Gautengers op ’n sonnige Saterdagoggend.

Die voetpad tot by Shelter Rock is sowat 2,4 km lank en wanneer jy bo-op dié rots staan, het jy ’n uitsig oor die vallei. By ’n nóg hoër punt op die roete genaamd Tweeboomnek kan jy nie anders as om jou kamera uit te pluk nie – dié uitsig smeek vir ’n Instagramselfie. Noordwes lê Rustenburg – op ’n mooi helder dag kan jy Sun City sien. Noordoos is Madibeng (Brits) en reg noord lê lemoenen bloubessieboorde, granietkoppies en platinummyne. Oos blink die Hartbeespoortdam op die bruin vlaktes, en as jy mooi kyk, herken jy Randburg en Sandton.

Onthou om gereeld op te kyk – vir ’n witkruisarend, ’n Suidelike waterfiskaal, blousysies of ’n swerm Europese byevreters wat regmaak vir hulle oorsese reis.

Waar? Shelter Rock is halfpad tussen Magaliesburg en die Hartbeespoortdam. Die afdraai is op die R401.

Koste R80 p.p. en R40 per kind jonger as 16, jonger as 6 is gratis.

Kontak 071 473 6298; shelterrock.co.za

– Lawrette McFarlane

2 HENNOPS TRAILS

(2,5 / 5 / 10 KM) PELINDABA

Die Hennopsrivier ontspring in Kempton Park en vloei dan deur die hart van Gauteng.

Waar dit by die Krokodilrivier aansluit, lê Hennops Trails – ’n versameling van stap-, bergfiets- en 4x4-roetes. Hier’s ook ’n piekniekterrein met braaiplekke, ’n ablusieblok en twee swembaddens.

Op die kortste van die drie roetes doen jy eers die Hospitaalgrot aan – een van die Boere se se veldhospitale in die Anglo-Boereoorlog – voordat die voetpad teen ’n heuwel uitklim. Hier is nie ’n duidelike voetpad bo-op die heuwel nie; volg dus die aanwysingsbordjies tot by ’n hangbrug oor die rivier. Bly kalm as jy skrikkerig is om die smal hangbrug oor te steek – dit hang al van 1932 af!

Ná die hangbrug klim die voetpad tot bo-op ’n plato op die voetheuwels van die Magaliesberg. Bo-op die plato strek ’n grasveld voor jou uit. Hou jou oë oop vir jakkalse, vlakvarke en selfs ’n koedoe of twee.

By ’n staning bome stap jy verby nóg ’n grot: Pruimpie se Gat. Volgens oorlewering het ’n man hier gewoon wat as kind alleen agtergebly het nadat Mzilikazi se volgelinge in die 1800’s deur die Zoeloes verdryf is. Hy het glo dikwels pruimtabak by die nabygeleë boere gebedel, vandaar die naam.

Van hier af daal die voetpad tot by die kabelkar. Klim in en trek jouself oor die rivier met die tou wat op die ander oewer geanker is. As dít jou benoud maak, gebruik eerder die nuwe hangbrug ’n paar meter stroomop en stap terug ontvangs toe.

Waar? Hennops Trails is sowat 30 km van Pretoria en 60 km van Johannesburg af in die rigting van die Hartbeespoortdam.

Draai van die R511 af by die Hennopspiekniekplek-en-staproetebordjie.

Koste R80 p.p. en R40 vir skoolkinders.

Kontak 082 825 9205; hennopstrails.com

– François Haasbroek

3 TUGELARAVYN

TUGELARAVYN (14 KM) KONINKLIKE NATALSE NASIONALE PARK

Hier’s ’n stuk of 20 staproetes in die reservaat, maar die Tugelaravynroete bly koning. Die roete in die ravyn op is nie moeilik nie, en ook nie te lank nie, maar omdat jy telkens vassteek om

You’re reading a preview, subscribe to read more.

More from Weg

Weg30 min read
Blyplek Noorde
BEKOSTIGBAAR (Sien bl. 13) Verskeie lodges en kampe in die noorde bied groot afslag aan in die hoogsomer (Januarie tot Maart, soms April). Dis dan vrekwarm en kan reën, maar jou beursie gaan baie daarvan hou as jy in dié maande toer. Die Kaokoveld en
Weg8 min read
Kyk Waar Val Die Water!
“Zambiese immigrasie by Kazungula is glo ’n nagmerrie,” sê die vrou vir haar man by die tafel oorkant ons by die Chobe River Camp in Namibië. Ek spits my ore. “Hulle moes ál hulle skoene in die ontsmettingsmiddel druk.” Tot op daardie oomblik het ek,
Weg5 min read
Swakopmund
Wild Rocket Café is dié plek waar ek en my vriende mekaar graag vir ontbyt ontmoet. Dis in die dorpskern en hoewel modern steeds knus. Besoekers kan binne of buite sit, tussen potplante en lanterns. Oorweeg die Mexikaanse eggs benedict of die salmon

Related