![wegza2202_article_098_01_01](https://article-imgs.scribdassets.com/7bidimip1caj0mof/images/fileP8J0ER7D.jpg)
Vir die mense van Prins Albert is reën meer kosbaar as goud. Met my besoek vroeg in Oktober laasjaar bars die hemele die eerste keer in bykans drie jaar oop. Die water in die leivore langs die hoofstraat vloei sterk, en dis asof die ganse dorp ’n slaak van verligting gee.
As jy in ’n droë omgewing grootgeword het, kén jy die reuk van reën wat die warmgebakte aarde tref: bedompig en effens metaalagtig.
Reën is natuurlik altyd welkom op ’n Karoo-dorp, maar Prins Albert is dit een voor as dit kom by watersake. Die dorp lê op die suidelike grens van die Groot-Karoo, maar dis ook naby die voet van die Swartberg. Dit beteken die leiwaternetwerk kry darem heeljaar water uit die berg se strome en fonteine.
Die vrugbare vallei lok al lang jare inwoners. Voor die 18de eeu was die Swartberg die tuiste van die Khoi- en San-mense. Die trekboere het in die 1740’s hier aangekom, en ene Zacharias de Beer het sy plaas, De Kweekvallei, in 1762 geregistreer. En dis hier waar die nedersetting Prins Albert – genoem na koningin Victoria se gade, prins Albert Saxe-Coburg – in 1842 as dorp geproklameer sou word.
Reeds van sy ontstaandae af is Prins Albert beskou as ’n plek met natuurprag en ’n bloeiende landboubedryf. Voor Beaufort-Wes in 1818 gestig is, was dié dorp die gekose oorstaanplek tussen die landdrosdistrikte van Kaapstad en Graaff-Reinet. Deesdae is die dorp se inkomste steeds afkomstig van landbou, maar ook toerisme.
Toe ek in die sogenaamde industriële gebied stilhou om die ystersmidkunstenaar agter die Striking Metalhandelsmerk te ontmoet, voel dit asof ek op die randjie van die beskawing staan. Agter my lê die dorp; voor my strek die Karoo-veld sover