Met die jare het die uiters sierlike kruidagtige randakkers wegbeweeg van die funksionele randakkers in die kothuistuinstyl waar eetbare plante soos vrugte, kruie en groente in geen besondere patroon nie tussen tuinblomme gegroei het. Dit het eerder die simbool van aansien in Engelse plattelandse tuine geword, en is ontwerp en beplant deur meestertuiniers wat hul beste tuinmaakvaardigheid uitgestal het om op groot skaal meesterstukke van vorms, kleure en teksture te skep.
Wat is ʼn kruidagtige randakker?
ʼn Kruidagtige randakker is ʼn versameling meerjarige kruidagtige plante wat na aan mekaar gerangskik is. “Kruidagtig” beteken dat die plante nie houterige stingels het nie, binne minder as ʼn jaar hul volle hoogte bereik, blom en saadskiet voor hulle gedurende die winter terugsterf om die volgende lente die prestasie te herhaal.
Die meerjarige, daarenteen (en dit sluit alle plantsoorte, houterig of nie, in), kan bladwisselend of immergroen wees, maar sal langer as twee jaar lewe sonder om heeltemal rustend te raak.