Ons land het van nature maar min groot bome. Hier en daar kry jy lappies bergwoud, met dié by Knysna die bekendste, en dan het ons die Laeveld met sy vet kremetarte en slanke doringbome; buitelyne wat ’n ganse landskap bepaal. Maar tussen Knysna en die Laeveld is daar die ewige ooptes: die Karoo, voorlope van die Kalahari, die rooigrasvlaktes van die Vrystaat, die droë Weskus. Gemeet aan bome is ons land gestroop.
Tog, as ek terugdink aan my jeugjare op Robertson in die Boland, is dit die bloekomboom wat ek onthou. Ja, daar was jakarandas, sipresse, norfolkdenne en soetdorings op ons dorpie, maar die reuse, die torings van die boomlandskap, was die bloekoms.
By die spoorwegstasie was ’n monumentale bloekom waar Japie Tenbob, ons verkeersman, geskuil het met sy stophorlosie, en by die Voortrekkersaal die wasbleek stamme van die laning teen die Hoopsrivier. By Silwerstrand was daar ’n yl plantasie bloekoms waar ek en my hond Toby ons naweke teen die Breërivier se walle omgedroom het. My oupa Boy het altyd van “bloggoms” gepraat as ons gaan stap, veld toe. Knap verby die kerkhof het die pad na die Langeberg deur ’n plantasie bloekoms geloop – en hier, as klein kind, het ek geleer om bobbejaansnuif te skop. Tot vandag toe hoor ek Oupa se stem,