![f0030-01](https://article-imgs.scribdassets.com/4cba6xxy9saajdzt/images/fileO4RL5DDU.jpg)
Iemand beduie ’n bietjie diékant toe, ’n bietjie dááikant toe en ek ry versigtig teen die staalspore uit tot op die veerboot. Minute later brul die twee dieselenjins ékstrahard en die boot beur weg van die wal. Ek, my Subaru Forester, vyf ander karre en hulle bestuurders, plus seker twintig voetgangers is nou op die Okavangorivier en op pad “oorsee”.
Die hoek van Botswana wat noord van die delta, oos van die Okavangopypsteel en suid van die Namibiese grens lê, is geografies só afgesny van die res van die land se infrastruktuur dat die mense hier rond daarvan praat as overseas, want dis só onbereikbaar dit kan netsowel Frankryk wees.
Met die handbriek op kan ek uitklim en dinge bekyk. Die Mohembo-veerboot – tussen Shakawe en die Mohembogrenspos – verbind die meer bedrywige westekant van die Okavangopypsteel met die oostelike oewer daarvan. Vir so lank as wat hier mense woon, kon jy slegs per mokoro van die een kant na die ander beweeg. Later het die regering se veerboot gekom – maar dié het soms weke lank gaan staan, en was bloot onbetroubaar.
Maar in 2022 het alles verander. Van waar ek staan en kyk, pronk ’n pragtige nuwe brug met sy pilare wat soos wit olifanttande grasieus vertoon teen die blou lug. Met my besoek in Meimaand was die brug voltooi, maar nog nie oop vir verkeer nie – dié sou eers op 24 Junie gebeur. Tog was die boodskap reeds