![f094-01](https://article-imgs.scribdassets.com/7ahb1ay1z4aflxft/images/fileDUU244OA.jpg)
Dis ’n Saterdagoggend in Oktober. In La Galerie, ’n gewilde eetplek op Pringlebaai, speel Van Morrison se “Brown Eyed Girl” oor die luidsprekers, maar die musiek word heeltemal uitgedoof toe ’n trop Harley-Davidsons al brullend by die parkeerterrein indraai.
“Ons is mal oor dié plekkie en stop altyd hier op ons weeklikse oggendrit,” sê ’n man ten volle geklee in swart leer. “En die stuk pad wat ’n mens hierheen volg, Clarencerylaan, is ook verreweg die mooiste in die omgewing. Jy kan dit vergelyk met die Slea Head-pad in Ierland, of die Groot-Kuspad in die suide van Australië.”
En hy is reg. Wanneer ’n mens Pringlebaai toe kom, behoort Clarencerylaan altyd jou gekose roete te wees.
Dié pad is in die 1940’s gebou en verbind Somerset-Wes met wat later jare Rooiels, Pringlebaai, Bettysbaai en Kleinmond sou word. Dié kusdorpies is ontwikkel op grond wat destyds as die Hangklip Estates bekend gestaan en aan ’n konsortium van ontwikkelaars behoort het: Arthur Youldon, Jack Clarence en Harold Porter. Dit was hulle droom dat die streek ’n vakansiebestemming word. Wel, dié droom is bewaarheid.
Pringlebaai lê in die skadu van Hangklip, ’n bergknoets wat op die een hoek van Valsbaai met sy voet in die see staan. Die dorp is genoem na skoutadmiraal sir Thomas Pringle wat in 1796 die bevelvoerder van die Britse Vloot in Simonstad aan die westekant van Valsbaai was.
Voor Clarencerylaan se bestaan kon ’n mens hierdie afgeleë kusgebied slegs met ’n tydrowende pad oor Sir Lowryspas bereik.
Die skeepsroete om Kaappunt was – veral tydens die Tweede Wêreldoorlog – ’n belangrike weg. Suid-Afrika moes dié stuk see namens die Geallieerde Magte vir Duitse duikbote fynkam, en een van die eerste