DIT spook steeds by haar, selfs ná al die jare. As haar tydsberekening net beter was.
Catherine Zeta-Jones gesels oor “die een wat weggekom het”. En nee, ons praat nie van ’n man nie, maar ’n rol. Die rol wat sy gebore was om te vertolk.
James Bond.
“Ek het die talent gehad om ’n vroulike Bond te speel,” vertel die Oscar-bekroonde ster van Chicago. “Ek was baie jare Bond-materiaal. Ek het as kind daarvan gedroom om ’n vrouespioen te wees – dis nou as ek dit nie gemaak het as aktrise nie. En later het ek nog groter aspirasies gehad.”
Hoekom in die verlede tyd praat? Dis welbekend dat die pos vir 007 tans weer beskikbaar is, en Catherine se loopbaan het onlangs weer vlam gevat. Tim Burton se weergawe van die Addams Family, die TV-reeks Wednesday, waarin Catherine die ma, Morticia Addams, speel – is pas uitgereik, en vandeesmaand speel sy in Disney+ se langverwagte National Treasure: Edge of History, ’n uitloperreeks van die Nicolas Cage-trefferflieks.
Dalk lees die Bond-vervaardiger Barbara Broccoli ons onderhoud, spot ek. Dalk sit sy dan die tydskrif neer en blaf na haar assistent: “Kry Catherine op die foon!”
Wat sal sy maak as sy so ’n oproep kry? “O, dit sal absoluut ’n ja wees. Geen twyfel.”
Ek gesels met Catherine oor Zoom. Mense kom nie altyd goed oor op Zoom nie. Maar Catherine is anders. Van die oomblik toe die 53-jarige haar stralende verskyning uit haar hotelsuite in Parys maak – geklee in swart met tikkies goud en silwer ringe aan haar vingers – is dit asof ons in dieselfde vertrek is. Daar is