Ek ontmoet Moji Kitsi op ’n warm oggend in November by die Welgevondenwildreservaat ongeveer 24 km noordwes van Vaalwater in Limpopo. Hy dra die kleure van die bos: ’n olyfgroen kortbroek en ’n gholfhemp wat duidelik al baie dae die son gesien het.
Ons skud blad en ek klim in ’n witen-groen minibus van die Welgevonden Environmental Awareness Programme (WEAP). Moji is die koördineerder van WEAP en bring baie dae in dié bus deur wanneer hy skoolkinders tussen dorpe soos Vaalwater en wildreservate soos Welgevonden karwei.
Thembi Momene (22), Thabang Mkoe (18) en Mpho Motsomane (19) van Vaalwater is reeds in die bus. Moji het al voorheen saam met hulle gewerk en ken hulle goed. Soos ons ry, deel hy sy kennis sommer so in die gesels.
’n Romanspinnekop hol oor die pad en ons klim uit om gou ondersoek in te stel. Moji werk naatloos ’n lessie in: “In die natuur funksioneer niks op sy eie nie. Daar is drie soorte simbiotiese verhoudings – onthou julle nog? Mutualisme, parasitisme en kommensalisme. Mutualisme is wanneer jou vriend brood koop, en jy koop skyfies, en dan eet julle saam. Kommensalisme is wanneer jy brood koop, en jou vriend koop niks – maar dis oukei, want hy eet nie saam met jou nie. Parasitisme is wanneer jy brood koop, jou vriend koop niks, maar eet elk geval al die brood!”
Hy lag en verduidelik dan hoe ligene ’n komposietorganisme is waar alge en sianobakterieë ’n mutualistiese verhouding deel.
“Ligene groei net waar die lug suiwer is; julle jongmense wil mos alewig na Pretoria of Johannesburg gaan, maar daar is geen ligene nie.”