![f056-01.jpg](https://article-imgs.scribdassets.com/7flmn3ro3kau7dm9/images/file4Q6AORSP.jpg)
Die son se eerste strale syfer deur die deinserige, insekbelaaide lug van die Okavangopypsteel en kom lê oranje teen die stekelrige stam van die knoppiesdoringboom bo my. ’n Span rooibekkakelaars is reeds besig om die bas van ’n enorme jakkalsbessie met hulle skerp skeloranje snawels te deurpriem. ’n Kuifkophoutkapper hou als belangstellend dop, vere deurmekaar asof daar gisteraand huismoles was. Op die grond wip pylvlekkatlagters tussen die blare rond.
Met my oggendkoffie in die hand stap ek ’n paar treë weg van my tent sodat ek die son teen my wang kan voel. Dis vroegwinter en die lekkerste tyd in Botswana. Koel genoeg saans sodat jy goed slaap, maar die dae steeds warm genoeg vir ’n kortbroek en T-hemp.
’n Paradys, dus.
Ek kuier nou al ’n week of wat lank in die Shakawe-omgewing by wonderlike mense wat dié plek se ritme deel van hulle leefstyl gemaak het. Kom saam, ontmoet hulle! >
Van D’Kar tot hier
D’Kar is ’n kolletjie op die Botswana-kaart tussen Ghanzi en Sehithwa, maar vir Willemien le Roux was dit vir ’n groot deel van haar lewe die middelpunt van haar bestaan. In 1967 het haar ouers, Dirk en Pollie Jerling, uit Suid-Afrika na D’Kar getrek.
“Ons was Doppers. My pa, ’n boer, het ’n advertensie gesien in Die Kerkblad, wat gesê het hulle soek ’n plaasbestuurder vir ’n sendingplaas in Botswana,” vertel Willemien. Ons sit op die gras voor haar huis by Askiesbos, ’n boskamp, suid van Shakawe. Hier voor ons blink die rivier, en digte plate papirus kan tot in die verte gesien word na die ooste – die Okavangopypsteel is amper 10 km wyd hier.
“Hy het geboer op ’n verskriklike mooi stuk aarde naby Bronkhorstspruit, maar my pa het gesê: ‘Drieduisend hektaar Kalahariveld waar ek met beeste kan gaan boer, gaan beter wees as drieduisend hektaar mooigeit waarop niemand kan boer nie!’ Hy het juis Botswana toe gekom vir die niks, maar dit was steeds ’n skok toe ons by D’Kar aankom. My pa se betaling was die feit dat hy sy beeste op die grond kon laat loop, en deel van sy verantwoordelikheid was die tagtig Boesmans op die plaas. Dié mense was