In ’n agterhoek van die Mediterreense See, op ’n eiland waar Napoleon eens as kaalvoetseun rondgehol het, gly my klam handpalm oor ’n koel, gladde rotswand. Vatplek is min. Die rotslys waarop ek voortskuifel, is so breed soos ’n paar Hi-Tecs en ’n skietgebedjie. My rugsak, entoesiasties gepak met tien dae se proviand en kampgerei, trek my rug agteroor. Afgrond toe. My brein sê: Gryp vas! Nóú! Maar die rots hier teen my wang is onverbiddelik. Ek tas rond vir ’n knoets, ’n holte, maar voel net ’n kale niks.
Die reisgids – en ’n streep kommentare op Facebook-groepe – het genoem dat die eerste paar dae op die befaamde GR20-staproete (wat van Calenzana in die noorde van Korsika tot by Conca in die suide loop) uitdagend kan wees. “Maar,” het een 16-jarige van Vancouver optimisties ingespring, “dit was toe nie so erg nie, ouens. Rêrig! Gaan doen dit net, man!”
En dis waarom ek my hier bevind. Twaalf maande van beplan, spaar en logistiek uitpluis later. In die noordelike hoek van Korsika, van Nice reguit suid net ’n klipgooi oor