![f0046-01.jpg](https://article-imgs.scribdassets.com/8shgyn9rnkb9canz/images/fileK7NV8E4R.jpg)
![f0048-01.jpg](https://article-imgs.scribdassets.com/8shgyn9rnkb9canz/images/fileRUYO6YWH.jpg)
Dis ’n bedompige lentedag in die Laeveld. By die Bush Pub & Inn buite Hoedspruit sit agt vroue ingeryg om ’n tafel en daar word hard en aanhoudend gesels. Die meeste van ons ken mekaar al van studentedae af. Baie waters is egter in die Klaserierivier af sedert ons mekaar laas gesien het, en ons probeer geesdriftig op die hoogte van elkeen se lewe kom.
Ek kyk my vriendinne deur, deesdae meestal ’n klomp stadsmuise – ek inkluis. Ons is gewoond aan warm storte en spoeltoilette, beddens met paslakens en gepofte kussings. En nou lê vier dae se velties en slaap onder die sterre voor. Ek voorspel dat ons mekaar nóg beter gaan leer ken.
Twee stapgidse van Lowveld Trails, Leighton Barnard en Lori Cilliers, het ons hier by die Bush Pub ingewag en moet nou bontstaan om almal se vrae te beantwoord. Want die groep se stap-en buitelugervaring, fiksheidsvlakke en algemene motivering lê oor ’n wye spektrum gestippel. Met groot geduld besweer hulle ons vrese en praat ons moed in en toe ek weer sien, is ons op pad na die Timbavati-natuurreservaat se ingangshek nie ver daarvandaan nie. Reeds aan die begin van die staproete verdwyn die selfoonsein – ons eerste treetjie na stilte.
DAG 1
Dis al namiddag en bitterwarm wanneer ons reg is om te begin stap. Leighton verduidelik hoe sake gaan werk: Hy stap altyd voor, gevolg deur die agt van ons en Lori vorm