![f0082-01](https://article-imgs.scribdassets.com/6gaasrcxj4bknt9b/images/fileSES4D6IZ.jpg)
TOE Sophie Ottaway ’n tiener was, moes sy dikwels dokter toe gaan. Sy’t net geweet daar was mediese komplikasies toe sy gebore is, dat haar eierstokke beskadig en verwyder is, en dat sy hormoonmedikasie moes neem sedert sy 11 was.
Op 22 het sy die dokter vir ’n roetineafspraak vir mangelontsteking besoek. Sophie het mediese afsprake gehaat; dus het haar ma altyd saam met haar dokter toe gegaan. Dié keer was haar eie dokter met verlof en sy het die instaandokter gesien wat by die praktyk naby Hull in Engeland waargeneem het.
Sy kon haar mediese rekord op die dokter se rekenaarskerm sien. “Sophie Ottaway,” het dit begin, “46XY-chromosoom. Uitsakking van die derms as gevolg van abdominale defek – blaasherkonstruksie, testes en fallus verwyder, vaginale konstruksie…”
Sophie het besef sy is as ’n seun gebore.
“Ek het na my ma gekyk en gesien sy het dit ook gesien, en toe besef sy ek het dit ook gesien. Nie een van ons het iets gesê nie. Ek het my antibiotika gekry en ons het die spreekkamer verlaat. Maar toe verloor ek dit.
“Ek het in die kar geklim en ontplof. By die huis het ek ’n bottel bier oopgemaak, na my kamer gegaan en die deur toegeslaan. My ma het met my probeer praat, maar ek het vir haar geskree: ‘Ek wil nie met jou praat nie! Ek wil nie weet nie!’”
Sophie het 15 jaar lank stilgebly oor wat sy daardie dag ontdek het en niemand daarvan vertel nie. Sy is nou 37. Ek sit saam met haar en haar ouers in haar netjiese ouerhuis. Sophie is ’n bondel energie, warm, passievol en snaaks; sy en haar ouers, Karen