MAKGADIKGADI
Golwe breek teen die kranse waar seekoeie en krokodille teen die welige strandsoom gespikkel lê. Indien ek 9 000 jaar gelede geleef het, sou dié toneel my by Mosu aan die suidelike punt van vandag se kurkdroë Makgadikgadipanne ingewag het. In daardie dae was dit nog ’n reusagtige meer – drie keer so groot soos die Victoriameer! Maar nou jaag net dwarrelwinde mekaar oor die leegte.
Baie toeriste slaap by die lodges in en rondom die dorp Nata op pad na Botswana se meer bekende kolle in die noorde, soos die Chobe- nasionale park. Maar Nata aan die noordelike rand van Sowa (ook gespel Suapan; dis die naam van die oostelike helfte van die Makgadikgadipanne) is jou poort tot ’n ander soort wildernis.
Die Nata Bird Santuary is ’n goeie bekendstelling aan dié gebied. Laatsomer, ná goeie seisoenale reën, staan die Sowa-pan vol water wat flaminke, pelikane en ander waadvoëls lok. Die res van die jaar is die kans goed dat jy springbok, volstruis en blouwildebees in die grasveld om die rand van die pan sien hou. En wanneer jy ’n bietjie wyer verken, sal jy ook tradisionele dorpies, platorande, palmwoude, varswaterfonteine, eienaardige plantegroei en ruïnes uit toeka ontdek.
KUBU
’n Eiland in ’n soutsee
Waar die Kubu-eiland sowat 45 km noordoos van die dorpie Mmatshumo uitstulp, anker dit die suidwestelike hoek van Sowa se skitterende soutpan. Die halfmaanvormige “eiland” is omtrent ’n kilometer lank en steek op sy hoogste punt sowat 20 m hoog bo die omliggende pan uit. Dis ook bekend as Lekhubu-eiland, wat “rif” in Setswana beteken. (Kubu beteken “seekoei” – van ver