![f070-01.jpg](https://article-imgs.scribdassets.com/9tj2xmdxogcf80qq/images/fileMLF6FQ9R.jpg)
Ná die aanhoor van verskeie rillerstories het ek Arangieskop van my staplysie geskrap. Vriende het vertel van toonnaels wat afval, bene wat breek, helikopterreddingspogings... Nee wat, om buite in die veld te wees moet ’n mens rustig maak eerder as gespanne, is my filosofie.
Maar toe ’n vriendin my weer op ’n dag nooi om dié naweekroete in die Langeberg te gaan stap, stem ek – ietwat tot my eie verbasing – in. Dalk het sy my net op die regte tyd gevang: Ná ’n lang, harde werkjaar het ek na ’n bietjie ontvlugting gesmag.
Steeds wou die voorspooksels my nie hééltemal met rus laat nie – veral toe die stap twéé keer uitgestel word: Eers weens goor weer en toe siekte. Maar ’n week nadat ek van ’n soort langdurige Covid herstel het, staan ek, Johanni Nel en haar skoonsuster, Mally Nel, Leandri Smit, Yvonne van Staden en Jolanda Human in die Dassieshoek-natuurreservaat buite Robertson en opkyk na waar Arangieskop bo alles anders uittroon. Daar is ’n radiomas op ’n knoets net links daarvan. Môreoggend staan ons daar. Wel, hopelik.
DAG 1 9,5 KM Beginpunt na Arangies
Kyk, ek was al fikser en gesonder, maar die stap kon wraggies nie wéér uitgestel word nie. Johanni stop my die stapstok wat ek by haar ma