Elsje Becker is ’n vrou met murg in haar pype en oemf in haar spiere. Hoe anders nadat sy ’n spannetjie van vier woelige seuns, die een ’n groter (selferkende) petrolkop as die ander, grootgemaak het? Dié ouma van sewe en grootjie van een is ’n vrou wat kan aanhou, uithou, byhou en, bowenal, kophou. (Gelukkig nie bekhou nie.) G’n wonder sy doen vandag nog, aan die vooraand van haar 90ste verjaardag, ’n honderd squats per dag nie.
Haar man, Joop, self ’n fier en regop man wat al die jare ’n elektriese ingenieur by die destydse Yskor was en vandag sy herinneringe van die 1957-model Fiat Nuova 500 in hulle motorhuis met kleur en geur en genoeg drama voorlees, vier ook sy 90ste in Oktober.
Twee merkwaardige, op-en-wakker mense wat op 28 Maart 2024 hulle 65ste huweliksherdenking gevier het.
Op een foto teen die Beckers se sitkamermuur hang ’n foto van Ma, Pa en drie seuntjies met die ondeundste dimpels, almal vandag suksesvol in eie reg: Hennie, die oudste, is ’n elektriese ingenieur wat op Nuwerus afgetree het en sy leraarsvrou as pastorieman bystaan; Gert is ’n meganiese ingenieur, die stigter en uitvoerende hoof van Saspine, ’n maatskappy in Pretoria wat al 25