Die meeste droogtebestuurspraktyke en hulppakkette in Suid-Afrika is nog baie reaktief, maar deur voorkomend op te tree, kan die nadelige gevolge van droogte op die landbou aansienlik verminder word. Daarom is dit nodig dat gebeurlikheidsplanne vir die verskillende kategorieë van droogte vir die staat, private sektor en boerderye ontwikkel word.
Jacob le Roux het as deel van sy meestersgraad in rampbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat droogte-gebeurlikheidsplanne vir die veebedryf in die Noord-Kaap nagevors. “Die grootste kwessie was om droogtebestuurspraktyke aan die droogtekategorieë te koppel. Die meeste boere pas reeds voorkomende droogtebestuurspraktyke as deel van hul algemene bestuur toe. In toekomstige studies behoort die gebeurlikheidsplanne vir landboubesighede, banke en die staat ondersoek te word. Dit kan voorkom dat hulppakkette altyd te min en te laat is, soos in die verlede ervaar is.”
Die droogtekategorieë (D0-D4), soos vervat in die nasionale droogteplan van 2020, behoort gekoppel te wees aan ooreenstemmende gebeurlikheidsplanne.