![f048-01.jpg](https://article-imgs.scribdassets.com/227b7dlc8wcoh8no/images/file8926LE7I.jpg)
Dis Januarie en bloedig warm. Die 21 Dunes Campsite se bordjie op die D1042 is amper swart gebrand. ’n Plaaspaadjie neem jou van dié hoofpad tussen die duine in. Hier en daar is ’n groen opslag tussendeur die rooi sand, bewyse van reën, maar behalwe die driedoringbosse wat op plekke ruig en vol wit blommetjies langs die pad staan, is dit nog droog vir dié tyd van die jaar.
Die kampplek is bo-op een van die Kalahari se bekende rooi sandduine. Hier is net twee kampplekke en die ander een is leeg. Ek is stoksielalleen in ’n see van duine.
Teen skemertyd steek ek ’n vuurtjie aan. Uit die wolke wat al heel middag dreig, begin ’n paar sagte druppels val. Ek trek my skoene uit en wikkel my voete in die sand waar die dag se hitte nog talm. Dis só stil rondom my dat ek byna elke druppel kan hoor val.
Die son groet met sy laaste strale wat deur wolke en oor die kameeldorings op die horison skyn. Die enigste geluide is ’n paar tortelduiwe en nou en dan ’n skaap wat nagsê.
Hier kén ons mekaar
“Ek gaan jou eers ontbyt voer voordat ons gesels,” sê Debbie Bester, 21 Dunes se eienaar, die volgende oggend. Oor ’n skaaptjoppie en eiers vertel sy dat haar seun Riaan tydens Covid-19 die