![f096-01.jpg](https://article-imgs.scribdassets.com/134srlph8gcoh8pv/images/file6T347NNU.jpg)
Bo en behalwe van die mooiste woestynagtige landskappe op aarde is Namibië ook bekend vir stilte. Maar somer in die Kavango-Oos- en Zambesistreek (voorheen die Caprivi) is nóóit stil nie.
Bosveldvisvangers huldig die dag in. ’n Rooibekfisant kekkel besete en steek ’n haan of twee aan. Iets pla die kroonkiewiete langs die oewer en hulle skop ook ’n bohaai op. In die bos “doe-doe-doe” ’n grootvleiloerie. Koeie kla, donkies balk. En deurgaans zoem en tjir die goggas. So gaan dit heeldag en sodra die son sak, begin die paddas. Hoe nader ’n mens aan ’n rivier bly, hoe meer oorverdowend word dié klikke en kwake.
Soggens is daar ’n gogga in jou koffiebeker. Groot motte fladder uit jou handdoek as jy dit optel om te gaan swem. Die streek is ’n plek vir ekstroverte – elke spesie laat hom- of haarself geld.
Maar hier hou ook stiller diere. ’n Swerm kleinwitreiers wat vroegoggend en laataand geluidloos oor die water gly. ’n Rooireier wat tjoepstil tussen die riete staan. ’n Slanghalsvoël wat soos ’n geveerde stokinsek dinge uit ’n boom bekyk.
Hoe dit ook al sy, berei jou sintuie voor op die vakansie van ’n leeftyd.
KAVANGORIVIER
Die eerste waters
Anderkant die Rooilyn op die B8, sowat 70 km noordoos van Grootfontein, begin die landskap merkbaar anders lyk. Waar jy kilometers aaneen verby boerderye of wildheinings gery het met g’n mens in sig nie, raak dinge nou losser, meer informeel, sonder enige drade.
Soms lê daar boslandskap alkant, dan ’n paar hutte met ’n landerytjie mielies, ’n baksteenhuis, ’n beeswagter wat sy kudde aanja, stapeltjies hout te koop, ’n groepie kinders onder ’n Rhodesiese kiaatboom, ’n waterpunt waar mense staan en gesels...en dan is daar weer vir lang ente net bosveld.
By Divundu draai ons (ek reis met my gesin) regs op die C48 en gewaar glimpse van die Kavangorivier tussendeur die geboutjies. Op ’n