Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die naamlose
Die naamlose
Die naamlose
Ebook365 pages5 hours

Die naamlose

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Haar pa se hand om die glas, dit onthou Carli beter as sy gesig. Tog is haar lewe op Grootvlei in haar geheue ingebrand: die donker plaashuis, kleintyd se spoke. Alleen by die rivier het Ma Bella stories vertel. Eendag-op-'n-reëndag, het sy gesê, gaan ons vir my familie kuier, tante Sophia en neef Allesandro, in annerland wat soos 'n stewel lyk. Maar nou lê Ma Bella in die kerkhof, en haar pa in die kroeg. Dora van anderkant die grootsloot sorg vir Carli totdat Oudominee en die vrou van die Welfare met die kinderhuis dreig. In die pastorie op die dorp gaan Carli in Evelyn se hande oor. En sy het nog altyd vir Wimpie, Dora se Wimpie, wat haar dae bly inkleur. Maar Wimpie het sy eie krisisse, en op hul laaste dag by die rivier weet Carli: haar dae op Grootvlei is verby. Met Ma Bella se baadjie oor haar arm klim sy tussen die kanne agter op die melklorrie. Jare later is die gat in haar hart steeds nie toegegroei nie.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 11, 2017
ISBN9780624051152
Die naamlose
Author

Mariel le Roux

Mariël le Roux is op 1 Oktober 1947 op die plaas Houmoed naby Worcester gebore. Sy matrikuleer in 1964 aan die Hoër Meisieskool Worcester. Dié ma van vier het haar loopbaan as dosent in Verpleegkunde aan onder meer die Universiteite van Wes-Kaapland en Stellenbosch beoefen. Na haar aftrede skryf, lees en reis sy graag. Sy en haar man, Jean, woon in Durbanville. Wilhelmina – kampkind op Java, haar debuutroman, het by Protea verskyn en uitstekende reaksie by die publiek uitgelok. In 2009 wen haar roman Die naamlose tweede prys in die Sanlam-Tafelberg Romanwedstryd.

Related to Die naamlose

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Die naamlose

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die naamlose - Mariel le Roux

    Die Naamlose

    Mariël le Roux

    Tafelberg

    Een

    Die rooidag vang my op die voorstoep aan die rivierkant van Grootvlei se huis. Ek was die hele nag hier.

    Gister het donker gedaantes vroegaand al, toe die son net onder was, soos roetdampe op my begin neersif waar ek ook al binne die mure van die huis skuiling probeer soek het. Tot ek wou verstik. Ek is verswelg deur dieselfde swart slierte wat my lank, lank gelede in die nagdonker van die ou plaashuis verneder het tot ’n bondeltjie angs, onder in die hoekie van my enorme ou klerekas.

    Maar ek het nie regtig ontsnap nie. Kleintyd se spoke het saam met my buite toe gestap, my op die stoep geselskap gehou. Veral dié van Pa, van Lena en van die katkoppie.

    Op die lendelam bankie in die hoek van die stoep het die ure van die nag omgedraal. My oupa Maans het die bankie vir my ouma Sarie gemaak om haar te plesier. Dit was nie maklik om my ouma Sarie te plesier nie. Die bankie moes haar uitspanplek wees in die noordhoek van Grootvlei se voorstoep. Sy was hoogswanger met my pa. ’n Swangerskap met slaggate, sy moes rus, soveel moontlik, het die dokter gemaan. Oupa Maans het die bankie vir haar skeef in die hoek van die stoep neergesit, dit daarna in die sementvloer vasgebout sodat niemand die hoek waarteen hy dit met sorg staangemaak het, kon versteur nie. Ouma Sarie kon tegelyk die rivier, die wingerde en die granietkoppies op die grens van die plaas sien. Dit was haar begeerte om so oor Grootvlei te kon sit en uitkyk, maar Ouma Sarie het, nog voor my pa se eerste verjaarsdag, vir die laaste keer op die bankie gesit.

    Veertig jaar later het Ma Bella, kort nadat ek in die wêreld gekom het, ’n kleipot langs die bankie kom neersit. Sy het ’n rooi malva daarin geplant. Ma Bella se rooi malva was nog vol in die blom toe ek laas hier was. Nou is die pot aan die voorkant van bo tot onder dwarsdeur die klei gekraak en staan dit halfvol kurkdroë kluite.

    Ek is verlig toe die eerste strale van die son op die rivier blink. Waar die vlak water oor die klippe spoel, flits liggies vlietend, aan, af, aan, af. Dis soos ’n sein, ’n kode wat my willoos terugneem na ’n lewe lank reeds diep begrawe. Toe ek bang was vir Pa.

    Ons het Wilhelm Botha gister in die Bothas van Grootvlei se familiekerkhof onder die peperboom begrawe. My pa het negentig jaar oud geword. Hy moes amper vyf dekades met sy gewete saamleef. Sy enigste salf; die brandewynbottel.

    Dit was Sampie, Dora se oudste seun, wat my ’n paar dae gelede by my huis gebel het. Is dit jy, Carli? het ’n manstem gevra. Die stem was vaag bekend.

    Ja, dis ek.

    Dis Sampie wat praat, Sampie van Grootvlei. Ek praat van die buurplaas af, van kleinbaas Danie se foun af. Ma-goed sê jy moet kom, die oubaas lê op sterwe. Sampie het harder en harder gepraat, seker die afstand aangevoel. Ek was oorweldig, ’n rukkie lank stom. Toe hy, ná ’n paar oomblikke van stilte, die boodskap met selfs meer geesdrif begin herhaal, het ek lewe gekry.

    Genade, Sampie, waar het jy dié foonnommer in die hande gekry?

    Ma-goed het dit in oorle’ nooi Bella se rooi boekie opgesoek toe ons gister agtermiddag van die hospitaal af gekom het. Die dokter het gesê dinge loop staan einde se kant toe met die oubaas. Ek was voor invaltyd vanoggend hier by die kleinbaas, maar hy het gereken dis bietjie vroeg. Toe sê hy ek moet ná brekfis weer kom, dan vat ons ’n kans. Hy het vir my die hele span nommers in die foun ingesit …

    Die lyn het doodgeklik. Sampie se relaas is stomp afgesny. Ek het verslae met die gehoorstuk teen my oor bly staan.

    Liewe Dora. Sy moes Ma Bella se rooi telefoonboekie al hierdie jare bewaar het, die boekie waarin my ma haar neef Alessandro se adres en telefoonnommer, haar lewenslyn soos sy dit genoem het, geskryf het. Vir ons twee, Carli-kind, vir jou en vir my, vir eendag-op-’n-reëndag, het sy altyd gesê.

    En Dora leef nog! Sy moet ook amper negentig wees. Sy is net ’n paar maande jonger as Pa.

    Ek wou nie kom nie. Twee dae lank het ek met myself gestry. Ek skuld Pa niks, ek ken hom nie. Ek wil hom nie onthou nie, nie sy gesig nie, nie sy stem nie, nie sy lyf nie. En tog is ek hier. Op Grootvlei. Ek het die lang reis onwillig aangepak. Feitlik die hele nag op die vliegtuig het ek regop in my stoel gesit, vasgemaak, my hele lyf snaarstyf. Ek was alreeds onder die juk van die plaas.

    Die plaas en al u vader se ander bates is vir u nagelaat, het die prokureur gister laatmiddag ná die begrafnis vir my gesê toe hy die testament kom voorlees het. Hier staan dit in u vader se eie handskrif.

    Dit was net ek en hy in Grootvlei se voorhuis. Die man het seker die ongeloof op my gesig gesien. Hy het die vel papier vir my gegee om self te lees. Daar was slegs enkele sinne op die vergeelde bladsy. Bewerig, met ’n vulpen, het Pa die paar lyne geskryf en dit onderteken onder ’n datum, lank voor Ma Bella in sy lewe gekom het. Die laaste wil en wens van Wilhelm Botha was baie duidelik. Sy ma, my ouma Sarie, sou al sy besittings erf, sou sy haar seun oorleef. Kom sy egter voor hom te sterwe, kry sy afstammelinge die volle voordeel van sy boedel.

    Waar kry jy hierdie ding? Ek kon die irritasie in my eie stem hoor.

    Die testament was vasgespeld aan die verkoopkontrak waardeur die plaas op u vader se naam oorgedra is. Dit was bykans sewentig jaar in veilige bewaring in ons kluis. Selfvoldaan. Gladdebek. Hy was trots op die sekuriteit wat sy kluis bied en hy het sy bors bietjie uitgestoot, homself regop gedwing in die pap, flenterige kussings van die sofa. Ek het by die bank gaan seker maak, daar is geen ander testamente ná hierdie een opgestel nie.

    Jy het die baas van Grootvlei se sake deeglik ondersoek. Waarom? Ek was bakleierig sonder dat die mannetjie my iets aangedoen het.

    Ek kan dit seker maar in u oor fluister, het hy half agter sy hand gesê, daar is lewendige belangstelling vir die aankoop van die grond. U sal verstaan dat ek ongelukkig nie name bekend kan maak nie. My praktyk is gewillig om namens u enige sake te behartig. U hoef net die woord te spreek. Hy was in sy skik. Die algemene aanvaarding in die kontrei is dat u u nie ná al hierdie jare hier op Grootvlei sal kom vestig nie. Is dit korrek? Hy het vraend na my gekyk, maar ek het hom nie geantwoord nie.

    Ek het vasgekeer gevoel so saam met die tevrede, jong vreemdeling in die donker voorhuis. Ek moes uit. Toe ek opstaan en deur se kant toe stap, het hy my gevolg. Op die voorstoep het hy op die boonste traptreetjie vasgesteek. Hy het sy hande dramaties voor hom uitgestrek en stadig van kant tot kant gedraai. Alles net vir u, as enigste afstammeling van die oorledene, het hy professioneel gesug. Asof ek die eerste prys gewen het, asof hy gestuur is om dit aan my te oorhandig.

    Grootvlei. My eie stuk verdrietige aarde.

    Pa was bewusteloos, grysbleek in sy gesig en blou om sy mond, toe ek ’n paar dae gelede by die hospitaal aangekom het. Beroerte, het die dokter saaklik gesê.

    Op sy ouderdom niks ongewoons nie, het die saalsuster my getroos. Sy het met een hand ’n paar grys haarslierte van Pa se voorkop af kant toe gevee. U is welkom om te bly solank u wil.

    Dis goed. Ek kon aan niks anders dink om te sê nie. Ek het ’n tree nader aan die bed gegee omdat ek kon sien die suster verwag die een of ander vorm van toenadering of emosie. Ek was versigtig. Ek wou nie aan Pa raak nie. Sy het die deur agter haar toegetrek toe sy uitgaan.

    Enkele minute later was ek weer in my huurkar. Die kamertjie was te klein vir my én Pa.

    Ek het daarna weer hospitaal toe gegaan, ’n paar keer. Later kon ek dit ’n bietjie langer in die kamer uithou, maar ek het die deur oop gelos. My pa het nie weer wakker geword nie. Toe hy die laaste keer teen die kussings na sy asem snak, die lug hortend uit sy longe pers, het ek ’n bevryding ervaar, het ek die jare ná Ma Bella se dood alleen saam met hom in die plaashuis voor my sien wegskuif. Soos ’n donker gordyn waaragter die verhoog in helder lig nog altyd versteek was.

    Hy het nooit weer sy hand vir my gelig ná die dag waarop Lena verdwyn het nie. Hy het, om die waarheid te sê, nooit weer aan my geraak nie.

    Maar Pa was woedend. In sy eer gekrenk. Hy was skuldig. Ek het sy lewe verwoes. Hy moes my subtiel straf, want hy is dopgehou.

    Ek het gou geknak.

    Twee

    My God, Lena, wat se ding is dit dié? Dis Pa wat my wakker skree.

    Buite, kan ek sien, is dit nog skemerdonker. Die boonste luikie van my kamervenster is oop. Dit moet baie vroeg in die oggend wees. Ek spring uit die bed en hardloop kaalvoet die gang af, na Pa en Ma Bella se kamer toe. Dis waar die lamp brand en waar ek Pa en Lena se stemme hoor. Die plankvloer is koel onder my voete. Ek weet die planke kraak net in die middel van die gang, daarom hou ek teen die muur langs. Ek maak nie ’n geluid nie.

    Dis ’n katkoppie, baas. Dit klink of Lena wil huil.

    Vat weg! Vat weg die bliksemse ding! skree Pa weer.

    Wag net, baas, die nooi-goed bloei kwaai, ek moet eers die nageboorte uitkry. Gee net ’n bietjie kans. Lena is baie bang en benoud, ek kan dit aan haar stem hoor.

    Ek sê vat weg die gedrog! sis Pa tussen sy tande deur.

    Jissis, baas! Lena praat skielik so hard en ongeduldig dat ek wip soos ek skrik.

    Moenie jou stem vir my verhef nie, meid. Hou jou op jou plek. Ek gee jou nou ’n snotklap, voor jy weet waar jy is. Ek sê maak ’n plan met die ding wat so steun.

    Ek kruip agter die gangkas se sykant weg. Lena stap naby my verby met iets in ’n opgerolde handdoek in een hand en ’n blaker met ’n kort kersie in haar ander hand. Die vlammetjie flikker soos Lena se hand skud. Jirre God, help my, asseblief, my Koning, die baas het mal geword, bid sy hardop. Sy stap by die badkamer in, maar ek kan nie sien wat sy daar binne doen nie.

    Ek druk my rug plat teen die muur toe Lena weer in die gang is. Sy het die blaker met die kers en die handdoek in die badkamer gelos. Sy sal my nie in die donkerte sien nie, want die gang is wyd en die kas is groot. Sy stap weer by Pa en Ma Bella se kamer in.

    Ek het gisteraand al geweet dinge loop nie reg nie. My ma het vroeg gaan lê met ’n pyn op haar kruis. My pa het baie ontevrede gesê: Dis nog drie maande voor jou tyd. Jy moet om godswil nie nou staan en skeef donner nie, Bella. Die rivier het afgekom, die drif is vol, mens kan na g’n kant toe deur nie.

    Ek was al in my bed. My slaapkamer is net langs Pa en Ma Bella se kamer.

    Loop haal vir Lena as dit tyd word, Wilhelm. My ma het sag gepraat, maar ek het haar gehoor. Dis al wat sy gesê het. Ek het eintlik geskrik toe sy so sê, want sy praat gewoonlik nie terug as Pa so onbeskof met haar is nie. Gewoonlik bly Ma Bella stil; sy sal hom partykeer ’n kwaai kyk gee, maar dis al.

    Dit reën al dae lank. Sonder ophou. Eers het die kloof tussen ons en oom Daan se plaas afgekom en daarna die rivier. Grootvlei lê tussen oom Daan se plaas aan die onderkant en die rivier aan die bokant. Die drif deur die rivier is toe onder water. Ons is vasgekeer. Daar is geen manier om op die dorp te kom nie. Dis nie nou reëntyd by ons nie. Hier reën dit in die winter. Dan hang die mis swaar oor die rivier en die ryp lê wit op die gras voor die huis.

    Dis freak weather, het Moos gister by die agterdeur vir my en Lena gesê toe hy kom seker maak het dat die houthoop onder die kombuisvenster toe is onder die seil. True act of God, sê ek julle.

    Wat beteken dit, Lena? Moos is Lena se man.

    Hoe moet ek weet? Lena het haar vingers styf oor al twee haar oë gedruk. Sy maak altyd so as sy dink. Dit staan in die Bybel, Carli-kind, hier op aarde sal ons net ten dele verstaan. Hulle het vergeet om daar in die Skrif by te sit dat ons vir Moos glad nie sal verstaan nie. Lena se hele voorkop was vol plooie van dink. Toe los ek maar.

    Oom Moos praat Hoog-Ingels, het Wimpie my al lankal vertel. Wimpie is my beste maat op die plaas. Die oompie het in die agterplaas van die Joodse dokter op die dorp grootgeword. Sy ma was die housekeeper daar. Die dokter het gaan vrou vat doer gunter in Jodeland. Dié dat sy g’n dooie woord in onse taal kon sê nie. Toe moes oom Moos maar die Rooitaal leer gooi.

    Dis ’n hele rukkie stil in die kamer voor Lena benoud praat: Die nageboorte sit vas en die bloed spuit, baas. Ek kruip stadig nader totdat ek om die deur tot op Pa en Ma Bella se bed kan sien. My ma lê op haar rug op die bed met haar bene wyd oop. Sy het haar naghemp aan, maar verder is sy kaal. Sy het nog die hele tyd niks gesê nie. Hou die lig nader, baas, sê Lena, ek sien sleg. Pa lig die lamp op en toe sien ek die yslike rooi, nat kol wat vinnig groter word tussen my ma se bene. Dis bloed. Dis bloed wat uit Ma Bella se lyf uit loop. Tot haar voete is al rooi en nat. Sy begin skielik snaakse steungeluide maak en kom effens regop. Sy sak weer terug en haar nek val skeef, half van die matras af. Lena skrik en los die wit string-ding waaraan sy getrek het tussen Ma Bella se bene en gee twee treë tot by my ma se kop.

    Toe skree Lena hard. Jirretjie God, baas, nooi Bella het uitgegaan! Ek skrik en spring terug sodat ek weer agter die gangkas se sykant kan wegkruip. Ek verstaan nie wat aangaan nie. Ek weet net ek wil nie verder kyk nie, daarom knyp ek my oë styf toe. Dis net ’n klein rukkie voor Pa se skoensole op die planke dreun toe hy by my verby hardloop. Hy hardloop in die donker gang af tot by die voordeur en uit in die reën. Hy skree en vloek die Here se naam. Hy hou aan en aan tot hy so ver van die huis af is dat ek hom nie meer kan hoor nie.

    Ek kan Lena hoor huil daar by Ma Bella in die kamer. My ma is doodstil. Ek sluip op my tone nader en loer om die deur. Lena lê dwars oor Ma Bella se bors en skud op en af terwyl sy aanmekaar kerm. Sy is ’n groot vrou en my ma is heeltemal weggesteek onder haar lyf. Dit maak my baie bang, maar ek gaan nie in die kamer in nie. Netnou kom Pa terug. Hy raak maklik onbeskof.

    Ek voel vasgekeer in die donker gang en begin treetjie vir treetjie terugsluip na my kamer toe. By die badkamer se deur kan ek die opgerolde handdoek se punt oor die wasbak se kant sien hang. Dis die patrone wat die kersvlammetjie op die vloer maak wat my laat stilstaan by die deur. Toe skrik ek groot. Daar kom geluidjies uit die handdoek. Dit moet die katkoppie wees wat wakker geword het.

    Ek is nuuskierig en loop stadig tot by die wasbak. Toe hoor ek dit weer. Sagte steungeluidjies kom uit die toegerolde handdoek. Ek lig die los flap op. My hele lyf bewe. Ek wil skree, maar daar kom niks by my mond uit nie. Ek wil weghardloop, maar my bene wil nie roer nie. Voor my in die wasbak lê die katkoppie. Dit lyk baie soos ’n babatjie, maar ook nie regtig nie. Dis ook nie ’n katjie nie. Dis ’n klein, klein lyfie met twee beentjies, twee armpies en ’n snaakse koppie wat heeltemal plat is bo-op. Voor, op die kante van die koppie, sit twee groot ronde uitpeulogies. Dis ’n mannetjie-katkoppie. Uit sy neusie en mondjie kom borreltjies skuim.

    Ná ’n rukkie bewe ek nie meer so baie nie. Ek weet nie hoekom nie, maar ek wil baie graag aan hom vat. Ek voel jammer vir hom. Ek sit my hand saggies op sy lyfie en vryf versigtig oor sy magie wat op en af roer. Sy velletjie is warm en nat en kreukel onder my hand. Eers toe ek my hand oplig, sien ek in die kers se lig daar is rooi slym aan my vingers. Net toe klap die voordeur hard. Dit moet Pa wees wat die deur agter hom toegeruk het, want die wind is stil.

    Ek pluk die punt van die handdoek weer terug oor die katkoppie en hardloop tot in my kamer. Onder die komberse byt ek op my hand sodat ek nie moet huil nie.

    Pa loop weer in die gang af tot by Lena en Ma Bella in die kamer. Ruk jou reg, Lena, sê hy, jy sal die meisiekind wakker maak met jou gegrensery. Nog ’n histeriese vroumens is die laaste ding wat ek nou wil sien. Jy moet gou speel. Lê uit die nooi en maak ’n plan met die gedrog in die badkamer. Dit moet ook in die kis kom. Ons sal nog vandag die kis in die grond moet kry, die pad dorp toe sal nie voor oor drie dae oop wees nie en teen daardie tyd sit ons met ’n vrotspul.

    ’n Rukkie nadat Pa klaar met Lena gepraat het, kom hy weer by my kamerdeur verby. Hy stamp met sy voete op die vloer. Hierdie keer hoor ek hom kombuis se kant toe stap. Hy laat die sifdeur hard toeklap toe hy uitgaan op die agterstoep.

    Lena se swaar voete slof-slof ná ’n tydjie stadig in die gang. Dis ’n rukkie stil. Toe hoor ek haar in die badkamer vroetel. Ek hoor water loop.

    Die komberse druk my op my bed vas en ek staan saggies op. Ek hoor Lena met die katkoppie praat. Jy moet saam met jou mamma-goed gaan, my liefie. Asseblief maak gou, hou op borreltjies blaas, sê sy. Ek loer om die badkamerdeur. Lena kniel by die bad se rand. Daar is water in die bad getap. Sy hou die katkoppie se lyfie, wat nog in die handdoek toegerol is, met haar een hand vas. Met haar ander hand hou sy sy koppie onder die water. Agter Lena drup water uit die kraan wat nie behoorlik kan toedraai nie. Sy sing vir hom: … laat, o laat die kindertjies na My toe kom.

    My bene begin vanself hardloop. Ek raas niks, want ek hou weer teen die muur langs. Tot onder in die gang hardloop ek en uit by die voordeur waar Pa net ’n rukkie tevore ingekom het. Dit begin lig word. Die lug is rooi agter die koppies oorkant die rivier. Ek hardloop met die tuinpaadjie tot anderkant die groot adamsvyeboom waar ek opgooi totdat my mond bitter is. Toe hardloop ek rivier toe. Ek hou verby die turksvylaning en verby die laaste wingerdstokke. Nog voor ek by die grensdraad kom, maak die rivierklippe my voete so seer dat ek moet gaan sit.

    Dis lank ná brekfistyd toe ek weer die voordeur oopstoot. Niemand het eers agtergekom dat ek weg was nie. Ek gaan trek my dagklere in my kamer aan en loop kombuis toe. Lena was skottelgoed. Pa sit by die kombuistafel met ’n koppie koffie voor hom. Hy kyk nie op toe ek inkom nie. Dis Lena wat haar hande aan haar voorskoot afdroog en voor my kom staan.

    Jou mamma-goed is vannag gesterwe, Carli-kindjie. Liewe Jesus het haar kom haal. Julle gaan ook nie meer ’n babatjie kry nie. Sy ruik na boerseep.

    Ek sê niks, ek kan nie praat nie. Toe draai ek om en loop na Pa en Ma Bella se kamer toe. Die bed is kaal; selfs die matras is afgehaal.

    Die hele oggend kap-kap dit in die skuur. Moos maak vir jou mamma-goed ’n doodskis, Carli, sê Lena toe sy sien ek luister by die agterdeur na die geluid. Ek het ouderling Koos Galant laat vra om die begrafnis te kom hou. Mens kan darem sowaar nie net die kis in die gat sit, omdraai en aangaan met die lewe nie. Ons begin vanmiddag drie-uur met die diens. Sampie-hulle grawe die gat onder die peperboom.

    Koos Galant is die ouderling van die Sendingkerk, die kerk vir die bruin mense. Hy begrawe al die plaasvolk van die buurt wat doodgaan.

    Ek wonder waar Ma Bella en die katkoppie is.

    Pa was klaar dik gedrink toe Koos Galant die Bybel oopmaak. Ek het my pa die hele oggend dopgehou. Hy was kort-kort by die sideboard. Lena het hom seker ook gesien, want toe ons vroeër almal onder die peperboom bymekaar was, het sy agter haar hand tussen haar tande deur vir Moos aangesê om ’n stomp vir Pa nader te rol om op te sit. Toe Pa sit, gaan staan Moos agter hom sodat Pa sy rug teen Moos se knieë kan stut. En toe Pa later aan die slaap raak, hou Moos vir Pa aan sy skouers regop. Elke keer as Pa se kop vorentoe val, buk Moos vooroor tot sy mond by Pa se oor is en dan sê hy hard: Praise the Lord! Pa skrik elke keer wakker, maar sy oë bly net ’n rukkie oop.

    Die houtkis wat Moos gemaak het, staan ’n entjie van die gat af op ’n paar bakstene met drie vangrieme onder die boom van die kis deurgetrek. Die deksel is met spykers vasgekap. Ek en Pa is al wit mense langs die graf.

    Waar is die buurt se groot Christene van onderkant die grootsloot dan? Dit was Dora wat vroeër so vir Lena en Moos gevra het nog voor Koos die Bybel oopgemaak het. Ons het onder die peperboom gestaan en wag vir die volk van oom Daan se plaas wat nog op pad deur die wingerd was. Oom Daan het verskoning saam met Koos Galant gestuur. Hy het ’n koei wat sukkel om te kalf, het hy laat weet.

    Mens kan seker altyd ’n koei aan’t kalwe sit as jy ’n verskoonsel nodig het. Ek het aan Lena se stem gehoor dat sy vies was. Dora het net gesnork en niks verder gesê nie. Sy bly ook op Grootvlei en help vir Lena in die huis.

    Where there’s a will there’s a way, het Moos gesê. As die ouderling en die plaasvolk hier kan staan, kan die base seker ook ’n plan maak om deur die waters te kom.

    Koos Galant klap die Bybel met ’n slag toe nadat hy Psalm drie-en-twintig gelees het. Hy praat sommer verder uit sy kop uit. Hy praat soos Oudominee Sondae van die preekstoel af praat terwyl hy vorentoe en agtertoe wieg op sy skoene, ook nes Oudominee. Net, Koos het nie ’n preekstoel nie, hy staan in die modder. Hy sê dis vandag vir hom ’n bie-sonderse eer om nooi Bella-goed te ruste te lê onder die omstandighede uit die hand van die Almagtiege Vader wat héérs oor die elemente.

    Ons het nie baie kerk toe gegaan nie, maar so ’n paar keer in die laaste tyd het Oudominee op die plaas met Pa en Ma Bella kom praat oor sensuur en nog ander groot woorde waarvan ek glad niks verstaan het nie. Die Sondag ná Oudominee op die plaas was, is ons dan altyd dorpskerk toe. Ons het gewoonlik in een van die agterste banke in die kerk gaan sit, naby die paadjie as daar sitplekke oop was. As Oudominee ná die diens die seën klaar uitgespreek het en sy arms begin stadig afsak na sy lyf toe, het Ma Bella my vinnig in die gangetjie tussen die banke deur voor haar uitgestoot. Sy het my twee skouers soos ’n stuurwiel vasgevat en my om die grootmenslywe voor my in die paadjie laat kronkel. Sodra ons by die traptreetjies af was en ons ons voete in die straat gesit het, het ons twee so vinnig as wat ons kon, kafee toe gedraf. Ek weet nie waar my ma al die geld gekry het nie, maar by die kafee het sy vir ons altyd ’n vars witbrood gekoop, en twee stokkielekkers – een vir my en een vir Wimpie. Ma Bella het die witgeel stokkielekkers gekoop wat soos room lyk. Dit is vir ons die lekkerste.

    Wimpie het elke keer as ek vir hom sy stokkielekker gegee het, agterdeur toe gekom om vir Ma Bella te kom dankie te sê. Hy het geweet om te wag tot Pa nie naby was nie, want ek het vir hom gesê die lekkers was my en my ma se geheim. Baie dankie, nooi Bella, die battermilk vlywer sakkers is my vywerit, het Wimpie elke keer gesê. Hy probeer Engels praat soos Moos, maar sy woorde klink snaaks. Moos sê Wimpie moet aanhou try, hy kort net ’n bietjie polish, dan sal hy soos die Queen herself klink.

    Die lekkers moes ons wegsteek vir Pa, maar die brood het op Ma Bella se skoot voor in die lorrie in die bruinpapiersak huis toe gery. Ek kon die brood die hele tyd ruik. My ma het die kans kafee toe gevat, want sy het geweet my pa sou nooit daar voor al die mense by die kerk vir haar wegry nie.

    Pa sit elke Sondag as ons kerk toe was, die hele pad plaas toe en skel oor Oudominee wat nog lekker sy gat gaan sien, al praat hy so heilig daar uit die hoogte uit. Pa sê as ons almal eendag voor die troon staan om geoordeel te word, sal daar nie plek vir skynheiligheid wees nie. Gesalfde ofte not.

    Ek is later moeg gestaan langs die graf, maar Koos Galant hou aan en aan oor die sondes van ons tyd, oor die doodsengel wat op die uitkyk is vir verlore siele, oor die drankduiwel en die wellustigheid waaraan die jonges hulle vergryp en waarná die moeders en die vaders die vrugte van hul kinders se vlees moet versôre. Dora, Lena en die vrouens van oom Daan se plaas huil later hardop. Dis die geluide van ’n nagmerrie.

    Eers toe die huilery ou Koos se stem doodmaak, hou hy op met praat. Toe skree hy hard bo almal uit: Amen. Drie keer: amen, amen, amen! En daarna sit hy in met Naa-der, my-hy God, by-hy U, stee-heeds naa-der by … Toe die laaste versie klaar gesing is, sê hy: Stof is die nooi-goed en tot stof sal die nooi-goed wederkeer. Ons sal nou oorgaan tot die teraardebestelling.

    Die ses jongmanne van Grootvlei tel die kis drie aan ’n kant met die rieme op. Hulle stap eers heeltemal eenkant toe. Toe hulle weer naderkom, is Moos en Lena se drie seuns, Janneman, Karools en Jafta, aan die een kant van die gat en Dora en oorle’ Klaas se drie seuns, Sampie, Pieta en Wimpie, aan die oorkant. Sampie gee die hele tyd orders van hoe hulle moet maak. Hy het vir Wimpie en Jafta aangesê om die middelste riem aan die punte te vat, want hulle is die jongste. Hulle armpies is maar dun. Wimpie is net ses weke ouer as ek en Jafta ’n jaar.

    Die kis skuif gevaarlik na die een kant toe toe Sampie se voete in die modder gly. Die nooi is ongerus. Lena praat met Dora. Hulle staan agter my. Toe vat Lena my skouers in al twee haar hande vas. Die ses manne laat die kis stadig in die gat sak, totdat die modder langs die kante boontoe borrel. Toe trek hulle die rieme uit.

    Pa kom skielik van die stomp af orent, maar hy val dadelik weer vooroor op sy knieë. Moos en Sampie help hom op en vat hom weerskante onder sy arms. Toe sleep hulle hom huis toe.

    Janneman gaan haal droë grond

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1