Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

In God se teenwoordigheid
In God se teenwoordigheid
In God se teenwoordigheid
Ebook750 pages30 hours

In God se teenwoordigheid

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Johan Smit se nuutste dagstukkieboek in grootdruk. Van die maandelikse temas wat Smit aanraak, is: * In die begin; * Woord en antwoord; * Inkeer, bestek neem; * ’n Nuwe lewenstyl; * Die Gees van God aan die werk; * Toerusting vir die nuwe lewe; * Gevare en struikelblokke; * ’n Mens in verhouding met ander; * Groei en vrugdra; * Troos en bemoediging; * Gereed vir môre; * Lig en vrede.
LanguageEnglish
PublisherLux Verbi
Release dateSep 20, 2011
ISBN9780796315687
In God se teenwoordigheid
Author

Johan Smit

JOHAN SMIT was van 1976 tot 1983 predikant by die NG-gemeente Bellville-Oos en van 1983 tot 2001 by die Helderberg-gemeente in Somerset-Wes. Sedert sy aftrede skryf hy voltyds. Hy het al byna ’n honderdtal boeke oor ’n verskeidenheid van onderwerpe gepubliseer. Johan is ook ’n gereelde medewerker van die Christelike tydskrif LIG en is getroud met die bekende skrywer, Nina Smit.

Related to In God se teenwoordigheid

Related ebooks

Christianity For You

View More

Related articles

Reviews for In God se teenwoordigheid

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    In God se teenwoordigheid - Johan Smit

    Januarie

    In die begin

    Ons begin die jaar by die begin, toe God die hemel en aarde geskape het. Dit is sekerlik gepas om die jaar met verwondering te begin, verwondering oor die grootsheid van ’n Skeppergod, en verwondering oor die plek wat die mens in God se skeppingsplan ingeneem het. Ons leer ken ook God se bedoeling met sy skepping, en veral dan met die mens wat na sy beeld geskape is.

    Later in die maand gaan die verwondering oor in hartseer oor die mens se hardnekkige weerstand teen God se wil. God se goeie bedoelinge met sy goeie skepping word deur die mens in die wiele gery. Wat God as goed bestempel het, word ’n gebroke werklikheid. Mens en skepping ly die bittere gevolge van die sondeval.

    1 Januarie

    In die begin …

    In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. Genesis 1:14

    So sê die Here, Hy wat die hemel geskep het, Hy wat alleen God is, Hy wat die aarde gevorm, gemaak het, dit gereed gemaak, geskep het, dit gevorm het, nie om leeg te wees nie, maar om bewoon te word: Ek is die Here; daar is geen ander nie. Jesaja 45:18

    Kom ons begin die nuwe jaar by die begin – toe God hemel en aarde geskep het. Ja, oor die skepping – die manier waarop God geskep het en die tyd wat die skepping in beslag sou neem, oor evolusie en aapmense en allerlei teorieë oor ’n oerknal waarmee al wat leef aan die gang gesit sou word – oor al die dinge word heftig geargumenteer. En so al stryende oor die onbegryplik grootse gaan die wonder van God se skeppingswerke by ons verby. Ons soek antwoorde en ons neem onverbiddelike standpunte in, maar ons vergeet om ons Skeppergod te aanbid en ons beperkte insig en kennis te bely.

    In die begin het God die hemel en die aarde geskep. God het op sy eie unieke manier ’n proses aan die gang gesit. Die Bybel noem dit skepping, om iets kreatiefs te doen, om uit niks iets te voorskyn te bring. Kunstenaarswerk. Maar veel meer nog: God se skepping roep chaos tot orde. God maak die onbewoonbare bewoonbaar. God skep ’n tuiste. Onbewoonbaar en donker is twee woorde wat ’n toestand beskryf. Dit is die chaotiese toestand voordat God se skeppende vinger in beweging gekom het.

    Skeppergod, ek eer U as dié God wat uit niks die wonder van lig en lewe skep. Ek aanbid U as die God wat uit chaos orde skep. Amen.

    2 Januarie

    Laat daar lig wees!

    Toe het God gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. Genesis 1:3–4

    Jy moet dit oor en oor sê: Die Bybel is nie ’n natuurwetenskaplike teksboek oor die skeppingsgebeure nie. Hier word byvoorbeeld gepraat van die aarde wat woes en leeg was met ’n watermassa waaroor God se Gees gesweef het – maar selfs die aarde moes deur God geskep word. Ons kry die gevoel dat hier na woorde getas word om die onverwoordbare uit te druk. Maar dit wat wel saak maak, kom duidelik aan die lig: God is skeppend werksaam!

    Vir die Bybelskrywer gaan dit nie oor die wanneer en die hoe van die skepping nie, maar oor die dát en die Wie. Dat hemel en aarde geskep is en nie sommer net van alle ewigheid daar was nie, en dat God die Skepper is. Oor die wanneer en die hoe kan mense na hartelus die een na die ander teorie uitryg. Wat saak maak, is die wesenlik belangrike: God het die hemel en aarde geskape.

    En God se bedoeling kom aan die lig: Hy wil uit dit wat woes en leeg en ongeorden is nuwe lewe orden. En die woorde waarmee God se skeppingsplan begin, die knal van die afsetter se pistool, is die volgende: Laat daar lig wees! En sommer op die heel eerste skeppingsdag word orde teweeggebring in die skepping van lig. Lig is lewe. Vanaf dag een van die skepping sou lig en duisternis in God se geskiedenisboek ’n deurslaggewende rol speel.

    Here, dankie vir die lig wat dag vir dag vir lewe en groei sorg. Dankie dat U lewenslig ook my lewe bestraal. Amen.

    3 Januarie

    Lig én duisternis

    Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is; die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie. Spreuke 4:18–19

    Reg aan die begin hoor ons al van lig én duisternis. Sonder lig is daar nie lewe nie. Alles wat ná die skepping van lig aan die orde kom, is vir lewe van lig afhanklik. Lig is lewe. Dit is dus heeltemal verstaanbaar dat lig en duisternis dwarsdeur die Bybel sleutelbegrippe word. Om naby God te lewe, beteken om in die lig te lewe. Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig …(Spr 4). Goddeloosheid word met duisternis verbind.

    Die skepping van hemel en aarde was inderdaad ’n ligpunt op die Goddelike agenda. Maar die duisternis het toe nie uitgebly nie. Die donkerte wat deur sonde veroorsaak is, het ’n verwoestende, dodelike mag geword wat God se goeie bedoelinge in die wiele gery het, ’n hardnekkige poging om die lig uit te doof. En hierdie keer was die duisternis ’n keuse wat deur die mens self uitgeoefen word. Sodra ’n mens jou rug op God draai, het jy van die lig van die lewe weggedraai. Dan kies jy die donkerte van die dood.

    Nogtans kan die lig van God se genade nie gedoof word nie. Op ’n dag het die ware lig na die wêreld gekom om finaal die donkerte van die dood te oorwin. Hy het gesê: Ek is die Lig wat lewe gee. Ná die ligbevel wat die skepping aan die gang gesit het, is die koms van Jesus, die Woord wat mens geword het, die Woord waarmee God sy Herskeppingsprogram op dreef laat kom.

    Dankie Jesus dat U die lig is wat ewige lewe gee. Dankie dat God se skepping in u herskeppende liefde vervolmaak is. Amen.

    4 Januarie

    U is met ’n kleed van lig omhul

    Ek wil die Here loof! Here my God, U is baie groot, U is beklee met koninklike luister, U is met ’n kleed van lig omhul. Dit is U wat die hemelkoepel soos ’n tentdoek gespan en vir U ’n woonplek ingerig het oor die waters daarbo, U wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind, U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars, … Psalm 104:1–4

    Psalm 104 is een van die mooiste lofgedigte oor die skepping. Die Skeppergod word geloof en geprys vir die wonder van ’n ongelooflike skepping. Dit is duidelik dat die digter en sy tydgenote ’n aantal beskouinge oor die skepping en die Skepper het wat vir ons effe vreemd op die oor val. Die feit is egter dat God in elke vers verheerlik word vir die grootsheid van sy skeppingsdade.

    Wanneer die digter vir God as Skepper beskryf, sien hy Hom beklee met koninklike luister … met ’n kleed van lig omhul. Lig is hier die teken van glorie, die teken van Goddelike heerlikheid. En dan kom hy met die hemelbeeld vorendag wat destyds aan die orde was: Die hemel is soos ’n tent gespan en bokant die tent en die watermassa is God se tuiste. Al die elemente is in God se diens, sy boodskappers en sy rytuie! Ja, vir seker dink ons op grond van nuwer insigte anders oor die aard van die skepping. Maar ons verwondering oor God se skeppingswerke bly nog dieselfde: dié is onbeskryflik groots. En ons lof en aanbidding en bewondering vir die Skeppergod is nog net so gloeiend soos dié van die Psalmdigter.

    Here, ons Skeppergod, ons aanbid u koninklike heerlikheid! U is nie net met ’n kleed van lig omhul nie, maar is Self die Lig wat vir ons lewe gee. Amen.

    5 Januarie

    En dit was goed!

    Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Genesis 1:31

    En so sit God toe sy skeppingsprogram voort – die een na die ander word die legkaartstukke op hulle plek geplaas om ’n skepping daar te stel waaroor God Self nie anders kan as om te sê dat dit goed is nie. Ses keer word dit feitlik as ’n refrein herhaal: En God het gesien dit is goed. Sy handewerk is volmaak. Goed en groots. Hoe kan ons die grootsheid van God se skepping behoorlik na waarde skat of met onbeholpe woorde beskryf? GK Chesterton sê die kunswerk is altyd kleiner as die kunstenaar. Die kunstenaar bewaar altyd ’n afstand tussen hom en die kunswerk. En só, beweer hy, is dit ook met ons Skepperkunstenaar: God is groter as sy kunswerk. Só geweldig groot is God! Hy kan Homself distansieer van die onmeetlike groot uitspansel. En die aarde is in die oneindige grootheid maar net ’n spikkel. En tog rond God sy skeppingswonder op hierdie klein spikkel af; tog skep Hy hier diere en voëls en visse wat elkeen maar net ’n wonderwerk op sigself is. En God sê dit is goed. Dit hoort so. Dis reg in sy oë.

    Hoe verwaand kan mense tog wees om te reken dat hulle maar selfs iets van dié grootsheid kan verklaar? Hoe dom om selfs te dink dat dit nie regtig God is wat alles geskep het nie?

    Dit was goed. Daaroor mag daar geen twyfel bestaan nie. God maak nie slegte goed nie. As ons handewringend na die verdorwe skepping kyk, moet ons heelpad weet dat dit nie God se bedoeling of skuld is nie.

    Kom ons sê dit in eerbied vir God agterna:

    Ja, Here, u skepping is goed, ongelooflik goed! U is die Skepper van ’n goeie aarde. Amen.

    6 Januarie

    U is die bron van die lewe

    Hoe kosbaar is u trou, o God! U beskerm die mense wat by U skuil. In u huis geniet hulle oorvloed, U laat hulle drink uit die strome van u goedheid. U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons. Psalm 36:8–10

    Die skeppingsverhaal straal warmte, beweging, lig en lewe uit. Wanneer God lig maak, is dit nie maar net die onderskeid tussen dag en nag nie; God se lig is lewenslig. U is die bron van die lewe; deur u lig lewe ons, sê die digter van Psalm 36. En dit is die boodskap van die skeppingsverhaal: lewe in oorvloed. En dit is waarom God dit goed vind – God hou van die lewe. Hy skep sodat daar lewe kan wees en Hy skep lewende wesens om die lewe te geniet.

    Lewe gebeur nie net sommer nie. Dit is nie gewoon maar net deel van ’n bepaalde logiese proses nie. Ongelukkig is dit hoe baie mense verkeerdelik oor die lewe dink. Nuwe lewe het vir baie mense ’n slaapkamer-, spreekkamer-, kraamkamer-aangeleentheid geraak – alles so menslik manipuleerbaar. En daarmee word die wonder van ’n Goddelike skepping onder die mat gevee. ’n Broeisel goudgeel eendkuikens is mos veel meer as die resultaat van ’n biologiese proses – dit dra die handtekening van die groot kunstenaar, en dit is iets waaroor ’n mens in verwondering kan buig.

    Lewe is nie toevallig nie. Dit is telkens die teken van Goddelike genade. Dit is die uitvloeisel van ’n skeppingsbevel. Die oopgaan van ’n lelie, die geblêr van ’n pasgebore bokkie, die eerste vlug van ’n skoenlapper – in alles hoor jy die stem van die Skepper: Laat daar lewe wees. Dink ’n keer nuut oor die lewe. Verheug jou daaroor. Loof en prys God daarvoor.

    Here, U is die bron van my lewe; deur u lig lewe ek! Ek loof U, my lewensbron. Amen.

    7 Januarie

    Die stem van die Here …

    Die stem van die Here weerklink oor die waters. Dit is die magtige God wat die weer laat dreun; die Here self is op die groot waters! Die stem van die Here is magtig, die stem van die Here is vol majesteit. Die stem van die Here laat weerlig uitslaan. Psalm 29:3–4, 7

    Psalm 29 is ’n lied oor die wondermag van God se stem. In Genesis 1 lees ons dat God maar net ’n woord gespreek het en die skepping het tot stand gekom. Wanneer God praat, gebeur dinge. Geweldige dinge. Die woord wat God praat, bring lewe voort. Dit is ’n woord wat vir ’n kosmiese magsvertoon verantwoordelik is. Dit skep orde uit ’n woeste chaos. Elke blom wat oopgaan, is die antwoord op God se skeppingswoord. Elke wolk, reënbui, sonsopkoms, wind en weerlig is deel van die simfonie wat in ’n jubeling losbars wanneer die dirigent aan die woord kom.

    Die Hebreeus vir woord is dieselfde as vir daad. Dit dui op ’n gebeure. God praat, by wyse van spreke, nie sommer in die wind nie. God se woorde is daadkragtig. Dit laat dinge gebeur. Die Psalmdigter het ’n pragtige lied daaroor geskryf. In die psalm hoor ons sewe keer die refrein: die stem van die Here … Die stem van die Here is magtig en vol majesteit, want ja, dit is die almagtige Koning wat aan die woord kom. Die Here se stem laat weerlig uitslaan en die woestyn bewe en die bokkies skrik – die natuur betoon sy onderworpenheid aan God se stem. Want God se stem is nie net die stem wat die skepping in aansyn roep nie, maar ook die stem wat oor sy skepping heers.

    Het jy al in die skepping God se stem gehoor?

    Here, ek hoor u stem . . . en ek buig in woordelose aanbidding. Amen.

    8 Januarie

    Net maar ’n fluisterwoord …

    Dit is maar die begin van sy dade, ons hoor net die gefluister van sy woorde. Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan? Job 26:14

    In Job 26 kry ons nog ’n loflied op God se magtige dade. In hierdie gedig word God voorgestel as die magtige God wat die geweldigste natuurkragte in bedwang bring. Hy is die God wat die aarde laat hang waar daar niks is nie en die hemel oor ’n leë ruimte uitsprei. Hy plaas ’n horison op die see en ’n grens tussen lig en donker. Deur sy krag bring Hy die see tot rus en deur sy insig verpletter Hy vir Rahab (in die Ou Testament die naam van die gevreesde seemonster). In Job se lied hoor ons ’n weerklank van die skeppingsverhaal: God praat en sy woord is skeppend, heersend, versorgend.

    Maar dan sluit Job die lied af met hierdie veelseggende getuienis: Dit is maar die begin van sy dade, ons hoor net die gefluister van sy woorde. Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan? (vers 14). Wat ons sien en hoor, is niks meer as ’n fluistering nie. So groot en magtig is ons God. Ons kan sy almag nie naastenby verstaan nie. En daarom moet ons tog nie op God se gefluister so luidkeels kommentaar lewer nie, so asof ons meen om iets van sy groot dade te verstaan.

    Miskien het God op ’n dag tog effens harder gepraat, harder as ’n fluistering. Dit was die dag toe die Woord mens geword en onder ons kom woon het. Of liewer, die dag toe die mensgeworde Woord aan die kruis sy lewe gegee het vir mense wat so swaar kry om op God se woord te antwoord.

    Here, dankie vir die fluisterwoord van u skeppingsmag; dankie vir die verlossende Woord aan die kruis. Amen.

    9 Januarie

    Woordelose wonder en die Woord wat lewe gee

    Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. Vir die son is daar in die hemel ’n tent opgeslaan. As hy stralend begin om sy baan te volg, is hy soos ’n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom. Psalm 19:2–4; 5–6

    In Psalm 19 vertel die digter op treffende wyse hoe die uitspansel die werke van God se hande bekendmaak. Dit is ’n deurlopende proses van die een dag na die ander, ’n onophoudelike getuienis van die grootheid van God. Van al die hemelliggame word die son hier as voorbeeld by uitstek uitgesonder. Want van al die skeppingswerke van God is die son die teken van lig en lewe. Weer dink ons aan Psalm 36 se woorde: in u lig sien ons die lig. In die natuur kom God se magtige werke aan die lig. Maar dan is daar nog iets meer …

    Die woord van die Here is volmaak: Dit gee lewe (vers 8). Ja, God openbaar Homself in die natuur, maar ons mag nie vergeet dat ook die natuur deur God se skeppingswoord in aansyn geroep is nie. God se woord is volmaak: Dit gee lewe. En dan nie net die Bybel-woord waarin Hy Homself openbaar nie, maar veral in die vleesgeworde Woord, Jesus, wat vir ons die lewe verdien het deur sy soenverdienste aan die kruis.

    Kyk na die natuur en loof God vir sy skeppingsmag. Kyk na die kruis en dank God vir die Woord wat lewe gee.

    Here, ek verwonder my oor die grootsheid van u skepping; ek jubel oor u volmaakte Woord wat lewe gee. Amen.

    10 Januarie

    Kom ons maak die mens …

    Toe het God gesê: Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip. Genesis 1:26

    En toe skep God die mens. Die skepping van die mens was anders as dié van die uitspansel en alles op aarde. Tot met die skepping van die mens het God alles uit niks geskape. Net deur ’n woord te spreek. Maar toe neem God iets van die materie wat reeds geskep is, en iets van Homself om die mens te skep. Die mens is as’t ware ’n mengsel van aarde en hemel, materie en gees. En daarom sal ’n deel van die mens ná sy dood weer terugkeer na die aarde, en ’n deel sal terugkeer na God.

    Die mens is ’n uitsonderlike skepping van God. Met die skepping van die mens maak God sy plan met die skepping van die mens bekend: Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers … Die skepping het by ’n hoogtepunt gekom. Die mens is nie gewoon net die

    voortsetting van die skepping wat reeds daar is nie, nie net maar nog ’n wonderlike toevoeging tot die skepping nie. Die mens is ’n nuwe skepping, ’n eiesoortige skepping. Want die mens word geskep as beeld, as gelykenis van God self.

    In die skepping van die mens verbeeld God Homself. In die mens word God in vlees en bloed deel van sy skepping. Nee, die mens is nie self ’n god nie, maar in die mens word die potensiaal ingebou om Goddelike eienskappe te openbaar.

    Here, ek buig in eerbied by hierdie geweldige moment in u skeppingsprogram. Om te dink dat ek deel daarvan is . . . Amen.

    11 Januarie

    Die naam van die kunstenaar

    Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en  swraakgieriges, tot swye gebring. Psalm 8:2–3

    God se Naam word in hierdie lied besing. Die Naam van die groot kunstenaar wat op al sy skeppingswerke pryk. Die ganse aarde en die hemelruim getuig van die Skepper se wonderdade. God het dit gemaak. Telkens wanneer ek hoor hoe die digters God se skeppingswerke besing, hoor ek hoe God self sê: Dit is goed. God se tevredenheid met sy grootse kunswerk word dag vir dag vasgelê in die verfhale wat op die groot doek van die natuur voor ons oë ontvou. Oor God se goeie, volmaakte skepping kan ’n mens nie uitgepraat raak nie. Jy kan hoogstens ’n gedig daaroor skryf, in stamelende woorde aan die Skepper hulde bring.

    Waarom sou die die digter daarop klem lê dat kinders en suigelinge God se magtige dade besing? Miskien wil hy daarmee net sê dat dit nie noodwendig slim geleerde mense is wat hulle oor God se magtige dade verwonder nie. Hulle is die mense wat so dikwels hulle koppe breek om die hoe en die wanneer van die skepping te probeer vasstel. Maar kinders, eenvoudige mense, kyk met blink oë in verwondering na die grootheid van God se werke. Dit laat my dink aan Jesus wat later ’n kindjie nader geroep het om te wys aan wie die koninkryk van die hemel behoort. Per slot van rekening bly dit maar net waar dat ’n mens voor die grootheid van God niks meer of anders as ’n kind kan wees nie, kinderlik afhanklik en met kinderlike verwondering.

    My God is so groot en so magtig! Daar is niks wat my God nie kan doen nie! Amen.

    12 Januarie

    Die grootse skepping

    … en ’n koningskind

    As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: Psalm 8:4–7

    Hoe meer ek oor die uitspansel te wete kom, hoe kleiner voel ek. Dit is veel meer as ’n onbeskryflike waarneming van son en maan en sterre. Om te ontdek dat dit wat ek sien maar ’n verspot kleine breukdeel van die geheel is. Kan jy jou voorstel dat daar meer as ’n biljoen ander sterrestelsels soos ons s’n is? En dan dink ons sowaar nog dat die wêreld om onsself draai!

    Psalm 8 is ’n lied van verwondering oor die grootsheid van die skepping. En die digter het nog maar so min geweet van hoe groot dit regtig is! Maar wat hy wel geweet het, is dat ons onsself tog nie al te groot moet reken nie. In die grootsheid van die sterrehemel ervaar ek iets van die grootheid van God. En eers dan kan ek voor die spieël gaan staan: Wat is die mens?

    Die groot mens. Die mens wat homself so hoog aanskryf. Wat is die mens? Hou jou hart vas: net minder as ’n hemelse wese! Want die mens verbeeld die wese van God. En die mens is belas met die verantwoordelikheid om God se wonderlike skepping te help bestuur. Heerser. Koning. Want hy is Koningskind. Ek en jy: Koningskinders. Presies hoe vertolk ons die belangrike rol? Gesels gerus met die Koning daaroor.

    Here, Koningskind, ek? Heerser oor u skepping, ek? Help my om dit te verstaan. Amen.

    13 Januarie

    Die versorgende Skepper

    U laat gras uitspruit vir die diere, en groen plante vir die mens sodat hy sy kos uit die aarde kan kry: wyn om mense se harte bly te maak, olie om die gesig te versorg, kos om die mens nuwe krag te gee. U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep. Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf. Psalm 104:14–15, 24, 31

    Psalm 104 is ’n lied van verwondering. Dit is ’n lied wat bruis van grootheid en almag en heerlikheid. Hoe groot is God! Hoe onbeskryflik wonderlik sy werke! Maar veel meer nog as ’n wonderlike Skeppergod; Hy is ook die versorgende Skeppergod, die Vadergod.

    Deel van God se grootse skeppingsplan is die voortdurende herskepping in die natuur: gras wat weer en weer uitspruit; plante wat weer uit die aarde te voorskyn tree; vrugte en wyn en olie wat jaar na jaar daar is om mens en dier te voed. Ja, die aarde is en bly inderdaad vol van alles wat die Here gemaak het. En as ’n mens daaroor nadink, ontdek jy saam met die digter hoedat God alles in wysheid gemaak het. Dit is nie maar net ’n doellose opmaak van ’n wêreld vol goed nie; dit is ’n fyn en unieke legkaart wat meesterlik voltooi word.

    Hoe anders kan ’n mens so ’n wonderlike God beskryf as die God wat lewe gee? God is lief vir die lewe. Natuurlik, ook my en jou lewe is ’n gawe van God. Ook ons lewens is deel van sy groot en wonderlike legkaart.

    Daarom: Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf!

    Here, mag my lewe ook aan U vreugde verskaf! Amen.

    14 Januarie

    Ek is vir God spesiaal

    Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. Psalm 139:14–15

    In Psalm 8 het die digter hom al daaroor verwonder dat God so ’n spesiale plek vir die mens in sy skeppingsplan het. En hier in Psalm 139 staan hy voor homself as ’n indiwidu in verwondering! Ja, ek is vir God baie spesiaal. Nie die mens in die algemeen nie, maar ek in besonder. Reeds toe ek nog ’n embrio was, was die hand van God in my lewe werksaam. Watter oorweldigende gedagte!

    Dit bly een van die onbegryplike wonders, naamlik dat God met elke mens ’n persoonlike saak het. God is nie maar net ’n ontoeganklike Oppergesag nie. Hy is ’n God wat met my persoonlik in ’n verhouding wil staan. Ek is vir God belangrik. En alhoewel God gees is, is Hy as ’n lewende persoon in my lewe teenwoordig. Ek kan met Hom praat en na Hom luister. En sodra ek hierdie wonder vir myself toegeëien het, kan ek na die wêreld rondom my kyk en weet dat elke ander mens vir God belangrik is. Elke ander mens wat in ’n groot winkelsentrum by my verbystap kan op ’n gegewe oomblik in verwondering bely: Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep.

    Jy kan gerus nou vir God loof oor die wonder wat jou naam en van dra. En dank Hom dat Hy elke oomblik oor jou waak omdat jy vir Hom kosbaar is.

    Dankie, Here, dat ek vir U so spesiaal is. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep! Amen.

    15 Januarie

    God se doenwoorde

    Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame. Die hele aarde moet die Here vrees, al die bewoners van die wêreld moet vir Hom ontsag hê, want Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar. Psalm 33:6, 8–9

    Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie. Hebreërs 11:3

    Wanneer God praat, gebeur daar dinge, groot dinge! As ’n mens deur die Bybel blaai, kom jy telkens die gedagte teë dat God se spreke kreatief is. Die Hebreeuse term vir woord kan ewe-eens as daad vertaal word. God se woorde is terselftertyd dade. Doenwoorde. God praat nie doelloos nie. Sy woorde is nie oppervlakkig en niksseggend nie. Daarom dat Jesaja sê dat God se woorde nie leeg na Hom sal terugkeer nie. Op God se woord gebeur dinge. In vandag se teksvers word God geloof omdat Hy die wonderlike skepping deur sy woord tot stand gebring het. Dit is nie net die hemelligame en die groot oseane wat deur sy woord tot stand gebring is nie; ook ek en jy is die produk van God se skeppingswoord.

    Ja, ons moet saam met die hele aarde in ontsag buig voor die sprekende God. Ons is bevoorreg om vir God op ’n baie konkrete manier te hoor praat. Ons beskik oor die Woord van God waarin Hy ons regstreeks aanspreek. Ons moet sy Woord met ontsag lees, met aandag na sy stem luister.

    God se woord kan wonders verrig. Vandag nog. Ook in en deur jou lewe. Luister fyn na wat Hy vandag vir jou wil sê en gehoorsaam sy woord.

    O Heer, maak oop my hart se poort; maak my ontvanklik vir u Woord. Amen.

    16 Januarie

    Hou God se Naam hoog

    So sê God, die Here, Hy wat die hemelkoepel geskep en dit oopgespan het, Hy wat die aarde gevorm het en alles wat dit oplewer, Hy wat aan al die mense op aarde die asem gee, die lewe aan alles wat op die aarde beweeg: Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee

    Ek nie aan gesnede beelde nie. Jesaja 42:5, 8

    As ’n mens na die skeppingswonders kyk, daardeur aangegryp word, en jy besef dit is die werk van ons enige en almagtige God, kan jy tog nie anders as om in bewondering en ontsag voor Hom te buig nie. Aan Hom kom die lof en eer en aanbidding toe. En tog gebeur die byna ondenkbare: Mense wat bely dat die Here hulle God is, draai van Hom weg en aanbid dooie afgode. Dit is in dié klimaat wat ons teksvers gemunt is. Israel het hulle tot nuttelose, dooie afgodsbeelde gewend en sodoende die Here se Naam ontheilig. Waarom? Skynbaar omdat hulle na vaste sekuriteit gesoek het, na aardse goed waaraan hulle kon vashou en dit vertroetel.

    Ongelukkig is dit nie ’n sonde waaraan net die Israeliete hulle skuldig gemaak het nie. Is dit nie so dat ook ons so baiekeer by die skeppingswonders verby kyk en ons aandag vestig op so baie nuttelose goed nie? Ons gee nie vir God die eer wat Hom toekom nie. Ons vergeet van die grootsheid van sy skepping. Ons raak nie meer oor God se wondermag opgewonde nie. Ander goed maak ons opgewonde. Mense en materiële goed word deur ons verafgod. En God se plek word ál kleiner in ons elke dag se bestaanswyse.

    Here, maak my los van alles wat kan maak dat ek U Naam oneer aandoen. Amen.

    17 Januarie

    ’n Sugtende skepping

    Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. Romeine 8: 20–22

    As ons aan die sondeval dink, haak ons gedagtes gewoonlik vas by die uitwerking wat dit op die menslike geslag het. Dit gaan mos oor die mens wat die harmonie met God verbreek het. En gevolglik is dit die mens wat daaronder ly. Voorts is dit die mens wat smag na verlossing. Wanneer ons oor Jesus se soenverdienste jubel, gaan dit weer oor die mens: … sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal verkry (Joh 3:16). Maar dit gaan nie net oor die mens nie! Die sondeval het die harmonie in God se goeie skepping versteur. Hemel en aarde, natuur en kultuur, mens en dier is deur die sondeval geskud.

    Paulus het iets van die omvangryke gevolge van die sondeval verstaan. Ja, dit is die mens wat na Jesus se wederkoms verlang wanneer alles nuut sal wees en Christus alles in almal sal wees. Maar, sê Paulus, ook die natuur smag na dié dag wanneer allles nuut sal wees. Want dan sal al die slegte goed waarmee die natuur getref is uit die weg geruim word. Dan sal dit weer baie goed wees soos wat God dit aanvanklik bedoel het om te wees.

    Here help my om ’n bydrae te lewer tot die bewaring van die natuur as ’n erkenning van u heerskappy oor u hele skepping. Amen.

    18 Januarie

    Versoeking

    Die vrou het die slang geantwoord: Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin. God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken. Genesis 3:2–5

    In die baie kort verhaaltjie in Genesis 3 kry ons tog die presiese rede vir die geweldige breuk in God se goeie skepping. Kortliks: ongehoorsaamheid aan God se wil. En die rede vir die ongehoorsaamheid? Niks anders as selfsugtige eiesinnigheid nie. Die Goddelike skepsel ontluik in ’n ek-mens.

    Dit begin met ’n versoeking. Die versoeker wat hier as ’n slang voorgestel word, is die verpersoonliking van God se teenstander. Reeds voor die sondeval is daar al ’n onheilige opstand teen God. Satan was gereed om alles in sy vermoë te doen om God se goeie werk ongedaan te maak. Sy tegniek is uitstekend. Hy saai die saad van wantroue. Hy plaas God se motiewe onder verdenking. Hy stel die mens bloot aan versoeking, die versoeking om vir God nee te sê en homself te bewys.

    Die oeroue patroon vind nog dag vir dag neerslag in mense se lewens. Nee, in die lewens van God se kinders! Sonde bly steeds niks anders as ’n nee vir God en ’n manier om my eie sin te kry nie. En sonde is nie Satan se skuld nie; hy help maar net dat ek self besluit om skuld te maak.

    Ons Vader wat in die hemel is, . . . laat kom ons nie in die versoeking nie. Amen.

    19 Januarie

    Sonde

    Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet … en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. Genesis 3:6, 8

    Die mens wat net minder as ’n Goddelike wese geskep is, wat as heerser oor God se

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1