Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Steeds bly die Liefde
Steeds bly die Liefde
Steeds bly die Liefde
Ebook318 pages5 hours

Steeds bly die Liefde

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hierdie verhalende nie-fiktiewe werk vertel die storie van Beryl Botman. Dis 'n opvolg op haar eerste publikasie, Sedert die dood ons skei (2022) waarin sy in gesprek met hom onthul hoe sy die eerste jaar van haar man, Russel Botman se skielike afsterwe ervaar en hanteer. Die daaropvolgende vier jare word in hierdie werk weergegee.


Na 'n stormagtige jaar van aanpassing, besluitneming en verandering behoort die daaropvolgende jare baie beter te verloop. Of is dit te veel gevra? Die verhoudinge met die stief- en skoonfamilie versleg en die kloof raak al dieper. Beryl maak so ver as moontlik seker dat haar besluite en keuses regverdig en redelik is, veral ten opsigte van 'n eiendom in die boedel. Regverdigheid kry 'n regskinkel, tot in die hooggeregshof en haal selfs 'n poniekoerant. Sy gaan egter vasberade voort met die afhandeling van die boedel en die vestiging van haar oorlede man se nagedagtenis, veral aan die Universiteit Stellenbosch.


Die vertelling vind in vier dele plaas wat elkeen 'n jaar na die eerste herdenking van Russel se dood verteenwoordig. Sy rig haar leed, ervaringe, gevoelens en gewaarwordige in die vorm van briewe aan hom. Die temas van verlies, smart en rou word vervleg met vasberadenheid, selfstandige besluitneming en die koester van dít wat vir haar en die verhouding met haar oorlede man belangrik was, asook die skep van nuwe ervaringe en geleenthede op haar reis as weduwee. Op haar eie, met kinders wat hul vlerke al verder sprei, grafeer sy 'n nuwe lewe, skep sy nuwe moontlikhede, doen nuwe dinge, besoek herinneringsplekke en loop nuwe paaie.

LanguageEnglish
PublisherBeryl Botman
Release dateOct 3, 2023
ISBN9798223463931
Steeds bly die Liefde

Related to Steeds bly die Liefde

Related ebooks

Women's Biographies For You

View More

Related articles

Reviews for Steeds bly die Liefde

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Steeds bly die Liefde - Beryl Botman

    Liefde_-_Cover.jpg

    Kopiereg © 2023 Beryl Botman

    Eerste uitgawe 2023

    Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag gereproduseer, of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf of band opname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring, sonder die toestemming van die kopiereghouer.

    Die skrywer het alles moontlik probeer om die feite objektief korrek weer te gee. As persone hulle situasies identifiseer en voel hulle is verkeerdelik, wederregtelik of onregverdig aangehaal en of benadeel sal die skrywer dit so gou as moontlik regstel.

    Gepubliseer deur Beryl Botman met die dienste van Reach Publishers,

    Posbus 1384, Wandsbeck, Suid Afrika, 2631

    Voorblad ontwerp deur Reach Publishers.

    Webblad: www.reachpublishers.org

    E-pos: reach@reachpublishers.org

    Text Description automatically generated

    BERYL BOTMAN

    beryl.botman60@gmail.com

    Proloog

    Jy is nou een lange jaar van my, van ons af weg. Ja, ek is wysgemaak dat die eerste jaar na die verlies van ’n geliefde die ergste is. Dit mag wel so wees, maar ek is glad nie so seker nie. Of laat ek dit anders stel, ek is nie so seker of die tweede en derde jaar makliker sal wees nie. Aan die einde van verlede jaar het dit beslis nie so gevoel nie. Daar was sóveel onopgeloste sake aan die einde van die eerste jaar. Dit het glad nie gevoel asof ek op pad uit die dal van doodskaduwee beweeg het nie. Ek het kompleet die gevoel of ek nog midde-in die rivier is, nog tussen die stroomversnellings. Die oewer was nog ver buite sig.

    In hierdie toestand van lewenslusteloosheid moes ek die hede en die toekoms in die oë staar. Ja, Russel, ek bedoel staar, want dit lyk en voel maar bra uitsigloos. Omtrent almal vertel my die ergste is nou verby. Al die eerstes is agter die rug: verjaardag, huweliksherdenking, Kersfees, Oujaarsaand, Valentynsdag, eerste herdenking. Nou hoekom voel dit nie of dit beter word nie?

    Ek hoop ook van harte dit is die enigste eerstes wat ek oorkom het. Of lê daar dalk nog van hulle vir my voor? Of is hulle maar die ergstes?

    Ek moet seker ook tog eerlik wees deur te sê ek voel nie meer so erg dat ek die heeltyd water trap en deur die stroomversnellings meegesleur word nie. Ek het tog soms vaste aarde begin voel, al sou die grond sag wees en my voete nog enkeldiep wegsink.

    Die onsekerheid het nog nie gewyk nie. Al sekerheid was maar deurgaans dat dit wel sal verander, dat dit tog nie vir ewig kan aanhou nie. Daaraan het jy my mos telkemale herinner. Niks is permanent nie. Alles gaan verby.

    Ek voel ook dat die intensiteit van my verlies wél afgeneem het, want aanvanklik was elke liewe uur van die dag so verskriklik dat ek vir twee weke lank daagliks aan jou kon vertel hoe my lewe verloop het. Daarna kon ek vir twee maande lank weeklikse grepe aan jou voorhou. Ja, en nog later wel maand vir maand vertel. Die intensiteit van my verlies het wel sy skerpkant begin verloor. Ek is al by die punt waar ek jou graf net maandeliks gaan besoek. Ek hoef ook nie meer die kerse so dikwels te laat brand nie, wat sê dat ek nie heeltemal in die dal van doodskaduwee is nie.

    En dit is die rede dat ek besluit het om oor te skakel en in die vervolg briewe aan jou te stuur. Ek sal maar sien soos die jare vorder hoe ek en wanneer ek besluit om te skryf. Ek vermoed dit sal nie te dikwels wees nie – in elk geval nie so dikwels as tydens die eerste jaar nie. Jy sal dus so nou en dan van my hoor. Hoop die briewe kom wel by jou uit. Ek sal nie weer op sulke dik papier skryf soos daardie eerste een wat ek aan jou geskryf het nie. Onthou jy nog daardie brief wat ek op Bruno se aanbeveling aan jou geskryf het? Ek dink ook nie dat ek deur daardie hele proses van oprol en uitbrand gaan nie. Ek gaan net aan jou skryf in die sekerheid dat die briewe, soos die anthuriums, simboliseer dat ons aan mekaar gebind is. Ons is aan mekaar gebind en verbind tot ons weersien … en daarna.

    Jaar Twee

    29 Augustus 2015

    Liewe Russel

    Die eerste jaar is mos nou verby. Nou moet ek seker in rat kom en myself regruk, maar dis nog maar moeilik. Ek moes die afgelope twee maande met twee hoofpunte op my agenda worstel: eerstens die boedelsake en tweedens die huldigingsbundel, jou boek. Dan is daar ook talle ander sakies wat ek moes hanteer.

    Om jou nagedagtenis te vestig– dis nou die beursfonds, huldigingsbundel, gedenklesing en die skildery – het ook heelwat van my tyd en aandag geverg. Die universiteit het my by al hierdie aangeleenthede betrek. Ek is dankbaar daarvoor, maar dis vir my terselfdertyd ook pynlik. My sielkundige sou verkies dat ek dit nie doen nie, maar ek voel weer ek móét en ek wil. Jy verdien my pogings om jou gedagtenis lewend te hou.

    Maar laat ek nou maar met die bundel begin. Wat die huldigingsbundel betref, het die US gevra dat ek ook ’n bydrae in die vorm van ’n nawoord lewer. Ek moes die meer persoonlike – Russel die familiemens – skets. Dit bly die moeilikste stuk wat ek in my lewe moes skryf. Wat skryf ek? Hoe laat ek reg geskied aan alles wat jy vir ons beteken? En omdat jy ’n mense-mens is, ’n ons-mens, wou ek nie net my stem laat deurkom nie. Ek het toe jou laaste verjaardag probeer aanwend deur die fotoboek wat Ilse vir jou geskenk het, as uitgangspunt te gebruik. Ek het toe ’n lysie gemaak van die verskillende karaktereienskappe wat verskillende inskrywings weergee. Onthou, Ilse het al die gaste gevra om by jou laaste verjaardagpartytjie te skryf waarom hulle jou liefhet en waardeer. Die meeste inskrywings het nie by die opdrag gehou nie en mense het baie gelukwensinge geskryf. Maar van die eienskappe wat deurgekom het, is die hoë mate van integriteit en verantwoordelikheid waarmee jy gelewe het. Ek het probeer om die verskillende kommentare aan te haal en so ook die mense na aan jou aan die woord te stel.

    Ek wou daarmee saam verseker dat ek aan jou in jou verskillende rolle ook reg laat geskied. So, ek moes jou onder andere skets as seun, broer, kleinseun, wewenaar, pa, man, oom en vriend. Dit was vir my verreweg die moeilikste stuk stryfwerk wat ek nog moes doen. Dit het lomp uitgekom. Maar behalwe dit, was my grootste kwelling dat wat ek ook al op skrif gestel het, só onvoldoende oorgekom het. Hoe sou ek dit ooit regkry om reg aan jou as mens te laat geskied in hierdie paar bladsye wat ek geskryf het oor hierdie grootse mens wat saam met my gewandel het? Hoe?

    Ek het maar berus, geskryf en ingedien en gehoop die redakteurs gaan dalk die skryfstuk in ’n meer sinvolle rigting stuur. Ja, Russel. My skryfstuk was so sinneloos, so leeg, so onvoldoende. Ek weet dit en hulle sal dit sekerlik ook agterkom en verbeteringe voorstel.

    Ek het jou verlede jaar vertel hoe ek aan Cornelius Thomas gekom het om die gedeelte oor jou jeug- en studentejare in die bundel te hanteer. Hy het vroeg in verlede maand met my ’n afspraak gemaak en toe ’n onderhoud met my kom voer. Hy was die regte keuse. Hy weet hoe om geskiedenis te skryf. Jy is immers ’n geskiedkundige figuur, Russel. Ek kon hom nie eerstehandse inligting oor jou gee nie, omdat ons mekaar in daardie tydperk van jou lewe nog nie geken het nie. Ek kon net vanuit jou as oorleweringsbron gesels. Ek het van jou persoonlike geskrifte uit jou jeug met hom gedeel. Hy het van jou gedigte en briewe met my toestemming gekopieer en saamgeneem. Ek moes die kwessie van die omruil van jou voorname tot die beste van my vermoë verduidelik. Ek hoop ek het reg onthou dat Pappie en Mammie nie ooreengestem het oor die eerste naam nie. Pappie het Hayman verkies en Mammie Russel en omdat Pappie die een was wat die registrasie gedoen het, het hy sy keuse uitgeoefen maar nooit laat blyk nie. Dis hoekom jou noemnaam Russel was. Ek moes dit verduidelik omdat jou swart A5-grootte swart hardeomslagboek met die rooi rug die titel Gedigte & verhale & sketse uit die pen van RHB die kwessie op die tafel plaas. Ek kon dit nie vermy nie. Ek het verder maar jou stories aan my en die kinders oor jou grootouers op Rooipos en in Bloemfontein met hom gedeel. So ook kon ek vertel van jou stories oor jou skooldae en die tyd aan die UWK. Ek het hom aangemoedig om met jou susters en broer te gaan gesels. Hulle weet beter oor jou jeugjare. Ek het al hul kontakbesonderhede aan hom verskaf. Dit was ’n goeie oggend. Ek is tevrede en oortuig dat jou jeug- en studentejare in goeie hande is.

    Laat ek nou maar eers al die dinge afhandel wat jou direk raak. Ek moet jou vertel van my gesprek met Llewellyn MacMaster en ook die bywoning van die Naspers 100-geleentheid.

    Ek het jou van my ontevredenheid met Llewellyn se hantering van die gedenkdiens na jou sterfte vertel. Ek het dit wel alles met Derrick Marco uitgeklaar en vrede gemaak. Ek het egter nie daarop aangedring om Llewellyn te sien nie. Ek het die saak as afgehandel beskou. Ons verhouding was egter stram. By geleenthede waar ons albei teenwoordig was, het ons mekaar vermy. Hy het my egter die dag nadat Cornelius hier was, hier by die huis kom sien. Ek het my ontevredenheid ten opsigte van sy hantering van Lizelle tydens die gedenkdiens te kenne gegee. Ons het tot ’n vergelyk gekom, maar toe gaan ons verder en praat oor my verhouding met Lizelle.

    Ek het my beste probeer om die diep en lange stryd tussen ons twee aan hom te verduidelik in die hoop dat hy Lizelle sal kan ondersteun. Lizelle is mos ’n diaken in die gemeente waar hy saam met Paulus de Wet dien. Ek het ook my begrip van die beroepsproses tot die amp van diaken met hom bespreek. Of dit het opgekom. Ek begryp nie vrywillige diens binne kerkverband heeltemal so goed nie. Hy het dit duidelik gemaak dat ek uit voeling is met kerklike beroepsprosedure. Toegegee. Dit is seker so dat mense hulself kan aanbied om as kerkraadslid te dien, ek weet nie. In elk geval, ek het gehoop dat hy dus in daardie kapasiteit Lizelle pastoraal kan begelei. Ek het ook geweet dat hy nie vir Lizelle goed geken het nie, want Lizelle was nie juis ’n gereelde kerkganger die afgelope jare nie. Hy het ook genoem dat Lizelle hulle nie in haar huis toelaat nie. Daaroor is ek glad nie verbaas nie.

    Nadat ek klaar gepraat is, is sy reaksie: Maar elke saak het twee kante.

    Natuurlik het elke saak twee kante, maar om dit vir my so te stel, het my die indruk gegee dat my kant nie juis vir hom help om ’n meer volledige beeld van Lizelle te kry nie. Ek het besef dat hy haar dus ook nie juis sinvol pastoraal sou kan ondersteun nie. Maar, miskien is ek verkeerd. Miskien weet hy beter. Miskien kan hy tot haar deurdring. Miskien word my gebed verhoor dat hierdie roeping wat Lizelle voel, haar redding, haar uitkoms is. Ek hoop vir die beste.

    Hy het verder gegaan en wou by my weet of daar nog iets is wat ek teen hom hou. Ek was nie van plan om dit op te haal nie, maar aangesien hy gevra het, het ek. Ek het hom ingelig dat ek voel hy het bygedra tot jou stres in die laaste week van jou lewe op aarde. Dit was oor die kwessies van die inklusiwiteit teenoor transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat jy uiteindelik moes hanteer aangesien daar stemme in die raad was wat gevoel het die eenheid het hul mandaat oorskry deur die afgekeurde transformasieplan wel te implementeer. Hy het alle verantwoordelikheid daarvoor ontken, al was hy die hoof van die eenheid. Ek laat dit ook maar daar en het nie aan hom gesê: Maar elke storie het twee kante, nie. Dis nie meer my besigheid nie. Dis klaar. Afgehandel.

    Nou vir Naspers 100. Ek het vir Ellen Tise gevra om my na die dinee te vergesel. Ek was ingenome dat hulle my genooi het, want vir my was dit ’n teken dat hulle jou nog as direksielid van Media24 en rektor van die US geëer het. Vir die geleentheid het ek ’n Chinese-styl sybaadjie gedra wat ek tussen jou goed gekry het wat van jou kantoor af gekom het. Josephine het dit vir my kleiner gemaak – weer eens asof dit oorspronklik so gemaak is. Sy is goed met die verstelling van kledingstukke, dít kan ek vir jou sê. Die geleentheid was indrukwekkend. Voor die Media24-gebou is ’n reuse-markiestent in die straat opgerig. Drankies is buite die tent op die sypaadjie bedien. Daar ontmoet ons vir Henry en Brenda Jeffreys en ons vier gaan saam binne en neem ons sitplekke in. Dit was een lang tafel en ons sitplek was amper aan die end van die regterkant, Adderleystraat se kant. Dit was nie lank nie toe word ons gehaal om in die middel te gaan sit. Ellen was in haar noppies want sy was reg langs Jonathan Ball en hulle twee het heerlik gesels. Die aand het heerlik ontspanne verloop met goeie vermaak en nie te veel toesprake nie. Ek en Ellen moes egter die partytjie daarna misloop, want ek het met Absa se Take me Home-program gereël om ons huis toe te ry. Ek is nie seker of ek jou al hiervan vertel het nie, maar ’n mens reël vooraf dat ’n bestuurder jou in jou eie motor huis toe ry. Dis veilig en deel van die motorversekeringspolis. Is dit nou nie lekker nie? Ellen het by my oorgeslaap so sy hoef ook nie weer daardie tyd van die aand terug huis toe te ry nie.

    Johan Botha het afgetree en ek is genooi. Jou vriend is nog stukkend oor jou heengaan, Russel. Hulle het baie mooi van Johan en ook van Selma afskeid geneem. By die geleentheid het die oorsig oor sy loopbaan sóveel van jou ingesluit. Dit was duidelik watter impak jy op die kerk se getuienisaksie gehad het. Onherroeplik, onuitwisbaar. Ek is so trots op jou. Maar dit bly maar vir my ongelooflik hartseer om so telkemale met jou lewe en wandel gekonfronteer te word. Ek huil darem al minder wanneer dit gebeur. Daardie aand het ek eers gehuil toe ek veilig terug in ons bed was.

    Dis weer Vrouemaand en ek het hierdie jaar ’n uitnodiging aanvaar om by die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning op te tree. Jy onthou seker nog ek doen so ’n geleentheid een keer per jaar.

    My Vrouedagtoespraak het ek in die vorm van ’n brief aan die meestal vrouedeelnemers hanteer. Jy ken my mos so, so in die styl en tradisie van Paulo Freire se manier van skryf en praat. Die skoolsaal van Gardens Commercial School in Paddocklaan in die middestad was ’n gemaklike plek om die vroue toe te spreek. Hier volg die begin en einde van die brief wat ek dan ook op hul versoek daarna aangestuur het:

    Take a moment …

    Women’s Month is an opportunity to reflect on being a woman. We can take stock of our strengths and gains, our pains and challenges. During this month you will be granted much stimulation in this regard. Be open to be filled with messages, stories, role models, advertisements in the media, events by organisations and the workplace such as this occasion.

    What I have done is to take a moment to reflect on what to do with all the input during this month and ground ourselves and think about what to do to get to August 2016.

    In our many roles as women: professional, worker, girlfriend, wife, widow, mother, sister daughter, niece, aunt, grandmother … we have to recognise that we have come a long way, in our own strength, through divine strength and the strength of others. But we also had some challenges. We must ensure that we are always making progress, individually and as a community of women and men.

    Traditionally women were expected to serve others and put herself last in all instances and get sufficient satisfaction from that. In the 20th century this has begun to move in the direction of another extreme: putting yourself first, your achievements first, being served and getting served.

    For some balance, some of this freed energy, physically and emotionally, can be used to serve others. Today we can reflect on a law of nature: action and reaction, in other words, balance. The balance of give and take.

    Ek het tydens die toespraak ’n groot lemoen te voorskyn gebring, dit tentoongestel en dit stadig begin skil en as volg afgesluit:

    The symbol of this fruit is a gift from nature that is nurtured and cared for – give and take. Take it for all that it means. It looks good: colour, shape. It feels good: texture and shape. It smells and tastes good. The peel of the fruit unites. To discover and experience this unity we have to peel it and this takes some discomfort and work. The peel holds us, the segments, together. Let us share in the pleasure, nourishment and enjoyment it gives and remember that within each segment are many little ones to remind us of our many roles, rights and responsibilities.

    Our families, communities, society and world are there to give to and take from – in unity and with freedom hard won. Keep the balance between give and take. Good luck.

    Nou ja, dit was seker ook ’n besturing, want dis die einste departement waarmee ek nog stoei oor die walletjie by ons Gordonsbaai-huis. Dit sloer nog. Dis nog heen en weer tussen my prokureur, die deskundige en die huiseienaarsvereniging van Harbour Island.

    Seker maar weer ’n kwessie van eerstes wat ek moet hanteer. Daar is nog soveel onafgehandelde sake soos die boedel en jou nalatenskap wat my aandag opeis. Wat die boedel betref, is dit nou meestal navrae om die boedelrekening op te stel. Dit beteken gewoonlik die opspoor van dokumente. Die grootste opspooroperasie was jou mediese rekords. SARS het besluit om jou belasting te oudit. Nou soek hulle bewyse van jou mediese uitgawes en die mediesefondsstate is nie aanvaarbaar nie. Hulle wil state van die praktisyns hê. Dit kos my om van dokter tot dokter te ry, want die aanvanklike oproepe het nie altyd goed gewerk nie. Hulle kan nie verstaan wat ek soek nie. Dit kos veel meer verduideliking, want dit klink vir my die arme mense het ook nog nie so iets moes hanteer nie. Ek ry dus Stellenbosch, Somerset-Wes en Durbanville toe agter state aan. Ek kry hulle almal. SARS is darem tevrede daarmee.

    So met al jou spesialiste in gedagte, kom die gedagte by my op hoe goed jy na jou gesondheid omgesien het en hoe jy voor jou sterfte een vir een elke kwessie versorg het: jou tande, neus, bloeddruk en jou vel. En nou lê jy begrawe met ’n mond vol nuwe tande.

    Die tweede jaar raak aan die stieffamiliekant ook nie beter nie. Toe Byron en Jayden laas by my was, het Blanche my laat verstaan die kinders wil nie eintlik na my toe kom nie, want hulle voel nie gelukkig nie. Ek het dit nie met haar opgeneem nie. Tot Byron se verjaardag. Ek en Roxanne was daar vir sy partytjie. Ek kon sien dit het Blanche ontstel toe die kinders so uitbundig was om ons te sien en aangehardloop gekom het om ons te omhels. Selfs ou Haylentjie wat omtrent nooit saam met Hayman en die seuns by ons gekuier het nie, het haar arms uitgesteek dat ek haar moet optel. Sy het haar armpies om my nek geslaan en haar kop teen my nek gelê.

    Alles het verder goed verloop totdat Jayden na my kom en sê dat hulle nie meer by my kan kom kuier nie. As ek hulle wil sien, dan moet ek hulle daar by hul huis kom besoek. Dit was vir my een te veel dat hulle die kinders ook by hul geveg met my insluit. Ek besluit om te vertrek nog voordat hulle aandete bedien. Ek is genoeg verneder. Ek sal dit nie duld nie. Ek sal nie onder hierdie omstandighede met hierdie stieffamilie voortgaan nie. Ek het niemand hieroor gekonfronteer nie. Ek het net vertrek en op pad huis toe aan Roxanne verduidelik. Dis verskriklik.

    Hayman het nooit weer op enige uitnodiging aan die seuns gereageer nie. Ek het veral jammer vir die seuns en Roxanne gevoel, want Hayman het ook nooit op haar uitnodigings gereageer nie.

    Dit is blykbaar ook vir Roxanne die laaste strooi. Sy het gevra om saam met my na my afspraak met my sielkundige te gaan. Ek het gedink dis goed dat sy ook oor haar denke en gevoelens oor haar halfbroer en -suster kan praat. Daar aangekom, vra sy om eerste in te gaan. Ek is daarna ingeroep. Die grootste skok het op my gewag. Dis nie waaroor Roxanne wou praat nie. Sy het haarself bevry van ’n jarelange geheim wat sy sedert haar kinderjare dra. Die geheim van haar halfbroer waarvan sy bewus is. Sy het gesê sy het geen rede meer om niemand daarvan te vertel nie. Jy is dood en die seuns is ook vir haar ontoeganklik. Ek het begin verstaan waarom Hayman op sekere tye onverstaanbaar vir ons, dis nou ek en jy, opgetree het. Dit breek my hart dat ek dit nie agtergekom het nie – dat jy dit nie agtergekom het nie. Roxanne is bevry. Ek ook. Dis ongelukkig nie my plek om jóú te vertel nie. Dis hare. Of eintlik Hayman s’n.

    Ek moet die boedel afgehandel kry.

    Nou is ek sommer vir jou ook kwaad. Dis jóú kinders. Dit het jou só lank geneem om my te vertrou en my siening van Hayman en veral Lizelle in te sien. Vir meer as twintig jaar het ek probeer, alles in my vermoë gedoen om die samegestelde familie te laat slaag. Jy ook. Ek wéét dit was vir jou verskriklik moeilik om toe te gee dat ek reg was en dat jy my verkeerdelik van onregverdigheid en liefdeloosheid beskuldig het. Ek wéét ook dat jy jouself tot jou dood nie daarvoor vergeef het nie, al het ek jou soveel keer verseker dat ek nie jou kinders se gedrag en manipulasie teen jou hou nie. Maar jy kón veel vroeër tot ander insigte gekom het. Dít hou ek teen jou. Ek het víér lange jare probeer om my gewaarwordinge ten opsigte van Lizelle met jou te deel, maar jy het vier jaar lank geweier om die boek te lees. Tot letterlik vlak voor jou sterfte wou jy daardie boek wat my redding was in my hantering van Lizelle, nie lees nie. Dís waaroor ek so kwaad is vir jou. Ek is egter bly dat jy nie gesterf het sonder om dit te lees en my standpunt in te sien nie. Ek kan nie in woorde uitdruk hóé dankbaar nie.

    Hierdie maand het darem op ’n meer plesierige noot afgesluit. Marlene het my na die openingsaand van die musiekblyspel, West Side Story, by Kunstekaap genooi. Onthou, ek het jou vertel ons het dit in Lavender Hill opgevoer. Daardie aand het Marlene hulde aan die afgestorwe moeder van die hoofsolis, Lynelle Kenned, gebring. Marlene het haar vader ook gevra om te staan sodat ons as gehoor ons medelye kon betuig. Dit was vir my ook weer ’n knopslukoomblik want ek het na jou verlang.

    Ek het ook sommer net daar besluit om my ou Lavender Hill-kollegas en -vriende bymekaar te kry om saam na die blyspel te kom kyk. Ek kan my vriendskapsbande met hulle weer hervat. Ek het behoefte daaraan. So het ek saam met Peter Mitchell, Shereen Adams en Cathy, sowel as haar man, Cedric van Blerk, teater toe gegaan. Ons kon Charmaine Hoedemaker nie opspoor nie en Diana Cupido woon tans in Sydney, Australië. Dit was ’n heerlike aand van die kunste en vriendskap.

    Tot volgende keer, my lief.

    24 Oktober 2015

    Liewe Russel

    Dit was jou geboortemaand. Die hoogtepunt van die afgelope tyd was die eerste Russel Botman-gedenklesing. Jou geboortedag sal van nou af jaarliks herdenk word met die Russel Botman-gedenklesing wat die Universiteit Stellenbosch se fakulteit teologie in samewerking met die kuratoria van die VGK en NG Kerk en die Beyers Naudé Sentrum sal hou. Ek dien ook op die komitee. Prof. Bosman – Bossie – neem as dekaan waar, want Nico is nou viserektor.

    Dit maak jou verjaardag in ’n mate makliker om te hanteer, aangesien dit my besig hou. Dit val op ’n Sondag en ek, Ilse en Roxanne gaan Stellenbosch toe en besoek Huis Russel Botman House. In die voorportaal is ’n gedenkplekkie met ’n brandende kers onder jou foto. In die voortuin het die studente ’n geelhoutboom ter ere van jou geplant. Ons drie het foto’s by die boom en in die voorportaal geneem.

    Die gedenklesing is op Maandag 19 Oktober in die Attie van Wijk-ouditorium gehou en is voorafgegaan deur skemerkelkies in die binneplaas.

    Dirkie Smit het die lesing, Om geskiedenis te maak ter wille van komende geslagte: Oor die teologiese logika van Russel Botman se toewyding aan transformasie gelewer. Dirkie het dit gepas gevind om eenvoudig weer na sy eie stem te luister, eerder as om ’n tema uit sy lewe en werk te neem en self verder daaroor na te dink, soos wat gedenklesings meestal gedoen word. Hy hanteer jou werk en lewe deur te begin met jou teologiese logika, gevolg deur temas oor roepingsbewuste spiritualiteit, verantwoordbare dissipelskap, ingewikkelde gehoorsaamheid, hoopvolle handeling, en afgesluit met jou toewyding aan transformasie.

    Dirkie het begin deur jou as agent van transformasie te plaas, lank voordat jy in universitêre geledere jou toegewydheid aan transformasie gevestig het. Hy noem omtrent al jou verskillende hoedanighede waarbinne jy funksioneer: op Stellenbosch, die provinsie, land, kontinent en in die globale akademiese wêreld. Hy voer die kwessie terug na jou proefskrif Discipleship as Transformation? Towards a Theology of Transformation. In ’n voetnota het hy jou beweging tot die skryf van jou proefskrif so

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1